Week 11 - 17 Desember 2011
Ciprus
Dank die Here dat, ten spyte van ons eiland se stormagtige geskiedenis, daar goeie vordering is en Bybels vrylik met die hulp van die Griekse Bybelgenootskap versprei kan word. Bid vir die baie immigrante wat hoofsaaklik om finansiële redes hierheen gekom het. Die Bybel kan hulle voorsien van die sekuriteit wat God bied. Bid dat Hy deure sal open sodat sy Woord versprei kan word in plekke waar dit nie voorheen bekend was nie.
Libanon
Ons is dankbaar vir relatiewe politieke stabiliteit, wat wyer Bybelverspreiding en gekoördineerde aktiwiteite met die kerke toelaat. Dank die Here vir die 25 000 kinders wat Bybelwêreld besoek het en bid dat die opgradering van hierdie fasiliteit nog meer kinders sal trek. Loof Hom ook vir ons weeklikse televisieprogramme vir die jeug en vir die duisende studente wat ons Boek van die Lewe-bronnesentrum besoek. Bid vir ons Hulp- en Bybelprogamme waarmee ons na minderbevoorregte gemeenskappe uitreik.
Turkye
Ons prys die Here vir sy beskerming verlede jaar toe die Kerk weer vervolg is. Ons is dankbaar vir geleenthede soos om produkte in koerante en op nasionale televisie te kan adverteer. Ons dank Hom vir Turkse en Koerdiese oudioprodukte. 'n Langtermynprojek, die eerste Turkse Bybelwoordeboek, is byna voltooi. Bid dat ons die fondse sal bekom om dit betyds te kan publiseer en dat dit baie mense sal bereik.






