Week 18 - 24 Desember 2011
Denemarke
Dank die Here vir die suksesvolle Barmhartige Samaritaan-program in Afrika en vir die werk wat ons in Groenland en op die Faroëreilande doen. Bid dat ons nuwe donateurs vir internasionale Bybelwerk sal werf, en in ons eie land die Bybel relevant sal aanbied en 'n hoë profiel daaraan sal verleen. Bid dat Deense skole ons Christelike opvoedkundige materiaal sal aanvaar en dat ons Aanlynbybel steeds suksesvol sal wees.
Nederland
Bid asseblief dat die Here alle pogings sal seën om onverskilligheid teenoor die Bybel in ons samelewing te beveg. Bid terselfdertyd dat Hy ons spesiale vennootskappe met Benin, Burkina Faso en Togo in Wes-Afrika sal seën. Bid vir ons projekte vir kinders en jongmense, maar ook dat vrywilligers en kerke toegewyd sal wees. Bid ook vir die vertaling van die Bybel in die hedendaagse taal.
Ysland
Bid dat vanjaar, wanneer ons Genootskap sy 195ste jaar van diens herdenk, vrugbaar sal wees en 'n geleentheid om diegene wat nog nie die Woord van God ken nie, te bereik. Bid dat die ekonomiese krisis wat ons land twee jaar gelede getref het, tot 'n nuwe begin sal lei en mense sal help om die skat van die Evangelies en die Bybel in sy geheel na waarde te ag.






