Week 22 - 28 Januarie 2012
Golfstate
Ons dank die Here vir ons veiligheid te midde van onrus, vir ons vergrote en opgeknapte Bronnesentrum in Bahrein, vir die verspreiding van meer as 2 000 Bybelgedeeltes onder Filippynse werkers en vir ons werkswinkels waar mense opgelei word om die Evangelie deur storievertellings te deel. Bid vir vrede en stabiliteit in die streek en vir die ontwikkeling van ons projekte vir etniese en taalgroepe. Dank die Here vir groter samewerking met die kerke in Katar.
Irak
Dank die Here vir Bybelwerk in Irak en dat ons met passie en toewyding voortgaan om die mense te dien. Bid vir Christene wat as gevolg van interne twis en politieke onrus uit hulle tuistes verdring is. Bid asseblief dat ons vennootskappe met ander Christenorganisasies ons in staat sal stel om Irakiërs beter en op verskillende maniere te dien. Bid dat die Here ons sal lei in die verspreiding van Bybels onder diegene wat honger is vir sy Woord.
Sirië
Ons het die afgelope jaar, regdeur die baie uitdagings wat ons geliefde nasie moes oorkom, die teenwoordigheid van die Here intens beleef. Ons dank Hom dat Hy ons harte ontvanklik gemaak het vir die rykdom en skatte van sy Heilige Woord en dat ons dit met ander kon deel. Prys die Here vir die drie Bybelsentrums, vir die nuwe Bronnesentrum in Damaskus en vir ons werknemers en vrywilligers. Bid asseblief vir ons kinders en jongmense wat met Gods Woord in aanraking kom.






