Week 1 - 7 April 2012
Namibië
Loof die Here vir die geleentheid om die gasheer te kan wees vir die Afrika Raad van Bybelgenootskappe, vir ons verhouding met kerke, vir Bybelvertalings en hersienings en vir die 70 000 Bybels wat gelewer is. Dank Hom ook vir fondsinsamelingspogings en dat ons met die opknapping van Bybelhuis kon begin. Bid vir vertalingswerk, vir Bybelformate vir die jeug, vir die bevordering van die Bybel, vir ons Bybel-'n-Maand Klub en vir die gebedsontbyt wat ons vir politici beplan. Bid dat die Here ons in die aanstelling van 'n sakebestuurder en die opknapping van Bybelhuis sal lei.
Botswana
Dank die Here vir die geleentheid om baie Bybels en Bybelgedeeltes in 2011 te kon versprei. Alhoewel ons nie die Naro Nuwe Testament gefinaliseer het nie, dank ons die Here dat ons dit voor die einde van vanjaar sal bekendstel. Dank Hom ook dat daar met die Shekgalagari Bybelvertalingsprojek begin is. In 2011 het ons 'n nuwe Raad van Direkteure verkies en ons finansiële beampte en senior kantoorassistent vervang. Bid dat hulle goed sal aanpas.
Zimbabwe
Loof die Here vir die suksesvolle bekendstelling van die Ndau Bybel en vir die aanstelling van 'n nuwe Hoofsekretaris. Bid vir die volgehoue vertaling van die Chikunda Ou Testament en bid vir fondse vir die Shona Studiebybel. Bid dat dit vir ons moontlik sal wees om effektief fondse in te samel en nuwe lede te werf. Bid vir ons land, vir vrede en ekonomiese herstel.






