Week 11 - 17 Maart 2012
Pole
Bid asseblief dat die Woord van die Here die bron van lewe en wysheid vir almal in Pole sal word. Ons is dankbaar vir die toewyding van ons klein personeel en dat die Here vir ons sorg, veral wanneer ons probleme moet oorkom. Dank die Here vir die interkerklike Bybelvertaling en vir ons ekumeniese Bybeldae, asook vir ons werk om die evangelie onder jongmense, gevangenes en mense in nood te versprei. Ons is baie dankbaar vir almal wat ons werk ondersteun.
Slowakye
Ons dank die Here vir ons nuwe interkerklike Bybel en vir die goeie ontvangs wat dit geniet. Ons is ook dankbaar vir ons ondersteuners en vir die gebede en hulp wat ons van ons suster-Bybelgenootskappe ontvang. Daar was aansienlike veranderinge in ons personeel: bid asseblief vir wysheid en moed vir die nuwe span, veral wanneer ons nuwe projekte bekendstel en met fondsinsameling begin. Bid ook vir groter eenheid tussen die kerke.
Tsjeggiese Republiek
Dank die Here vir ons getroue donateurs en vir goeie samewerking met al die kerke. Dank die Here ook vir geleenthede om ons spesiale Nuwe Testamente in hospitale en versorgingsoorde te versprei. Prys Hom vir ons nuwe maklik leesbare Bybel met aantekeninge en bid dat dit mense wat nie bekend is met die Bybel nie, se lewens sal aanraak. Bid dat die Here ons aktiwiteite in ons sekulêre samelewing sal seën en dat die sekulêre media toenemend in die Evangelie sal belangstel.






