Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het in Julie 2001 sy Bybel-per-Maand Klub begin. Dié klub verskil van ’n gewone boekklub waar lede elke maand vir ’n boek betaal. Bybel-per-Maand Klublede betaal maandeliks ’n bedrag sodat iemand anders die waardevolste boek wat ’n mens kan besit – die Bybel – kan ontvang.
Bybel-per-Maand Klublede se bydraes stel die Bybelgenootskap in staat om ten minste een Bybel vir iemand anders teen ’n bekostigbare prys beskikbaar te stel. Klublede help die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om nie net Bybels aan die mense van ons land nie, maar ook vir Afrika en die res van die wêreld, te voorsien.
Bybel-per-Maand Klub projek vir Mei 2012
Bybels vir seelui
Vir baie jare reeds help die Bybelgenootskap om Bybels te voorsien aan die verskillende hawesendingorganisasies wat in ons hawens, van Richardsbaai aan die ooskus tot Saldanhabaai aan die weskus, werksaam is.
Duisende matrose van heinde en verre wat by ons hawens aandoen, hoor dikwels vir die eerste keer van Jesus en sy liefde by hierdie hawesendingwerkers. Dit is ook hier waar baie seelui vir die eerste keer 'n eie Bybel ontvang.
Bybels word benodig in honderde verskillende tale soos Arabies, Bulgaars, Birmees, Chinees, Hindi, Spaans, Tamil, Thai en Vietnamees, om maar net 'n paar te noem.
Aangesien die meeste van hierdie Bybels ingevoer word, is dit baie duur. So kos dit die Bybelgenootskap byvoorbeeld, afhangende van die wisselkoers, R265 om een Birmese Bybel in te voer en R120 vir 'n Spaanse Bybel.
Die Bybelgenootskap probeer om die prys wat die sendingorganisasies vir die Bybels betaal, so laag as moontlik te hou. Om hiermee te help, word daar vanjaar R60 000 benodig.
Stuur 'n sendeling. Gee 'n Bybel vir 'n matroos.
Bid vir:
- al die hawesendingorganisasies
- elke matroos wat een van ons hawens aandoen en 'n Bybel ontvang.








