Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Tuiste wat doen ons die saaier

die saaier

Engelse Bybel vir Dowes

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het onlangs begin met 'n nuwe vertalingsprojek vir 'n baie spesiale groep mense, Engelssprekende Dowes. Daar word gehoop dat hierdie Bybel by sy voltooiing nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die res van Afrika, vir Dowes die Bybel meer toeganklik sal maak.

Dié vertaling, in doofgerigte Engels, is veral bedoel vir doofgeborenes en mense wat Gebaretaal gebruik. Aangesien mense gesproke taal deur veral nabootsing en verbale kommunikasie leer, het doofgeborenes spesifieke taal- en leesbehoeftes.

Vir die meeste Dowes is Gebaretaal hulle moedertaal en hulle sal sonder twyfel eerder 'n visuele Bybel met die Gebaretaal wat hulle verstaan, verkies. Behalwe dat 'n visuele Bybel 'n uiters duur projek is, word een Gebaretaal nie deur almal gebruik nie. In Suid-Afrika alleen is 12 verskillende Gebaretale gedokumenteer en in Afrika ten minste 150. 'n Verdere probleem is dat die Bybelteks leen hom nie oral tot die gebruik van Gebaretaal nie. Die volledige Bybelteks kan dus moeilik deur die visuele medium vir Dowes toeganklik gemaak word.

Baie skole vir Dowes in Afrika gebruik Engels as onderrigmedium, maar ongelukkig is bestaande Bybelvertalings vir die meeste Dowes moeilik verstaanbaar en dit lei maklik tot verwarring. Navorsing toon dat die leesvaardigheid van die meeste volwasse Dowes in Suid-Afrika gelykstaande is aan dié van horende kinders tussen 8 en 10 jaar oud. Slegs 'n klein persentasie dowe leerders slaag uiteindelik Graad 12.

Hierdie Bybel sal dus so vertaal word dat die meeste Dowes wat hulle onderrig in Engels ontvang, dit sal verstaan. 'n Beperkte woordeskat sal gebruik word, asook baie voetnote en illustrasies om sekere begrippe in die teks vir Dowes te verduidelik.

Vir die komende jaar word R800 000 benodig om hierdie projek te laat vorder. Maak 'n bydrae en help om die Bybel vir Engelse Dowes toegankliker te maak.


Indien jy belangstel om meer uit te vind oor die Bybelgenootskap en sy werksaamhede bestel vandag nog jou gratis eksemplaar van DIE SAAIER.