Die Bybelgenootskapbeweging begin by 'n jong Walliese meisie, Mary Jones, se begeerte na 'n Bybel in haar eie taal. Mary is in 1784 in Wallis gebore, in 'n tyd toe Bybels baie skaars en duur was. Die dogtertjie het van kleins af 'n verlange na 'n eie Bybel gehad en het vir jare gespaar om een te kon koop. In 1800, toe sy 'n tiener was, het sy ongeveer 40 km te voet afgelê om 'n eie Bybel te bekom.
In 1802, tydens 'n vergadering van die 'Religious Tract Society', het Thomas Charles, die predikant by wie sy uiteindelik 'n Bybel gekry het, Mary se verhaal vertel. Planne is gemaak om meer Bybels in Wallis beskikbaar te kry en een van die persone teenwoordig, Joseph Hughes, het uitgeroep: "If for Wales, why not for the whole world?"
Op 7 Maart 1804 vergader 300 persone in die 'London Tavern' en die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap word gestig. Die jong Bybelgenootskap het gou vlerke gekry en na ander lande uitgebrei.
Op 23 Augustus 1820 vergader 'n groep in Tuynhuys, Kaapstad, onder voorsitterskap van sir Rufane Donkin, die waarnemende Goewerneur aan die Kaap. Die gevolg? Die stigting van die 'South African Bible Society'.
Die Bybelgenootskap dien almal deur bekostigbare Bybels beskikbaar te stel aan alle kerke, kerklike organisasies en individue. Die Bybel is reeds in 10 van ons land se 11 amptelike tale vertaal. Om te verseker dat die Bybel vir almal toeganklik is, is die Bybel beskikbaar in verskillende formate, soos:
- Groot druk
- Braille
- Doofgerigte Afrikaans
- Oudio
- Internet
- Selfoon
- E-boek
In 2011 het die Bybelgenootskap 1 267 718 volledige Bybels versprei - 1 024 383 gedrukte Bybels, 242 600 gratis Selfoonbybels en 735 e-Bybels. Daar is ook 27 231 volledige Bybels aan ander Bybelgenootskappe in Afrika gelewer.







