| mary jones verhaal |
|
Eendag kom Mary se pa met wonderlike nuus huis toe: net drie kilometer van hulle af word daar 'n skool gebou! Uiteindelik, toe Mary al tien jaar oud was, kon sy vir die eerste keer skool toe gaan om te leer lees en skryf. So 'n entjie van Mary se huis af het 'n vriendelike dame, mev Evans, gewoon. Sy het geweet hoe graag Mary Bybelversies leer en kerk toe gaan en hoe mooi sy kan sing. Mev Evans het Mary belowe dat, so gou as wat sy kon lees, sy na haar huis kon kom om uit haar Bybel te lees. Een Saterdagoggend klop Mary aan mev Evans se deur, en word binnegenooi. Op 'n tafeljie in die een hoek sien Mary die groot Bybel onder 'n geborduurde lappie lê. "Kom nader, Mary," sê mev Evans, maar Mary was maar bang om aan die groot Boek te raak. Sy vee haar hande af, maak die Boek oop en begin lees. Toe Mary die aand huis toe gaan, was daar net een wens in haar hart: sy wou so graag haar eie Bybel hê. Haar vader het vir haar 'n spaarbussie van hout gemaak waarin sy al die sente gebêre het wat sy gekry het vir kinders oppas, eiers verkoop, hout bymekaarmaak en verkoop, en naaldwerk doen. 'n Jaar het verbygegaan voordat Mary die geld getel het, maar dit was nog veels te min: die goedkoopste Bybel het tien rand gekos. Mary se hart was baie seer, maar sy het nie moed verloor nie. Toe uiteindelik, na ses lange jare, het sy genoeg geld vir haar eie Bybel gehad. Toe was daar nog 'n probleem: waar kan Mary 'n Bybel koop? In haar eie dorpie was daar geen Bybels te koop nie, selfs nie eers by dominee nie. Toe hoor sy dat daar in 'n dorpie met die naam Bala, Bybels verkoop word. Om by daardie dorpie te kom, moes Mary 'n voetpaadjie deur digte bosse in die berge volg. Dit sou baie gevaarlik wees — moet sy dit waag? Maar al waaraan Mary kon dink: "Ek moet vir my 'n Bybel in die hande kry!" Sy besluit om te gaan. Die groot dag breek uiteindelik aan. Die oggend vroeg kniel Mary saam met haar vader en moeder om te bid. Sy groet hulle en neem haar handsak met haar padkos, die geld waarvoor sy so hard gewerk het, en 'n paar skoene om aan te trek vanneer sy by die dorpie Bala kom. Mary kyk na die hoë bergkruine en dink aan die woorde van Psalm 121: "Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het." Die aand net toe dit donker word, kom Mary in die dorpie Bala aan. Sy is baie moeg en honger, en haar voete is stukkend geloop. Vriendelike mense het daardie nag vir Mary kos en 'n plek om te slaap gegee. Die volgende oggend gaan klop sy aan ds Thomas Charles se deur, want sy het gehoor dat hy Bybels verkoop. Die dag waarvoor sy al so lank gewerk en gespaar het, het aangebreek! Die dominee wou eers weet wat Mary se naam is, en waar sy vandaan kom. Hy wou weet of sy kan lees, en wat sy nou eintlik van hom wil hê. Toe sê hy iets wat Mary se hartjie sommer baie treurig maak: "Kind, ek is jammer, maar ek het net een Bybel hier, en dit het ek aan iemand anders belowe." Mary kon haar ore nie glo toe sy dit hoor nie. Dit beteken dat die mooi droom wat sy al so lank in haar hartjie dra, nooit gaan waar word nie. Sy gaan sit op 'n stoel en begin huil. "Nou moet ek sonder 'n Bybel teruggaan!" huil Mary. Die dominee het vir Mary jammer gevoel toe hy sien hoe seer haar hartjie is en hy sê vir haar: "Mary, moenie huil nie. Omdat jy so graag 'n Bybel wil hê, sal jy jou eie Bybel kry. Neem hierdie Bybel." Toe Mary dit hoor, het sy opgespring, haar trane afgedroog en die Bybel styf teen haar hart gedruk — sy was so bly, want nou het sy haar eie, eie Bybel! "Dankie, mnr Charles! Baie dankie!" het sy geroep. "Nou moet ek huis toe gaan." Met haar Bybel styf in haar hande en baie, baie gelukkig het Mary die lang pad terug huis toe begin. By die huis het Mary se vader en moeder opgewonde vir haar gewag. By die groot paraffienlamp maak Mary vir die eerste keer die Bybel in hulle huisie oop. Sy blaai na Psalm 150 en sy lees: "Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf!" tot by die laaste vers: "Laat alles wat asem haal, die Here prys! Prys die Here!" Toe kniel Mary saam met haar ouers om vir die Here dankie te sê dat hulle 'n Bybel in hulle eie taal het. Maar dit is nie al wat gebeur het nie: daar was nog 'n storie na dié een. Ds Charles wou vir die mense in Londen vertel hoe min Bybels daar in Wallis is. Hy vertel toe Mary se storie in Londen aan 'n klompie dominees. Daar is toe begin om plan te maak sodat die mense in Wallis meer Bybels kon kry wat ook nie te duur is nie. Die een dominee sê toe daar moet 'n vereniging gestig word om vir Wallis Bybels te gee. 'n Ander dominee, Joseph Hughes, roep toe uit: "Nie net vir Wallis nie, maar vir die hele wêreld!" So is die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap dan op 7 Maart 1804 gestig. Hierdie genootskap het na ander lande uitgebrei. In Suid-Afrika het dit in 1820 amptelik in werking getree. Sedertdien het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gegroei tot een van die grootste verspreiders van volledige Bybels in die wêreld. Jy het waarskynlik jou eie Bybel. Hierdie ware verhaal van hoe Mary Jones haar eie Bybel gekry het, kan jou help om jou Bybel in jou eie taal nog meer te waardeer. Die Bybelgenootskap verkoop Bybels teen bekostigbare pryse sodat almal 'n Bybel in hulle eie taal kan koop.
|
