English (United Kingdom)
Tuiste wie is ons geskiedenis
geskiedenis

Die Bybelgenootskapbeweging begin by 'n jong Walliese meisie, Mary Jones, se begeerte na 'n Bybel in haar eie taal.  Mary is in 1784 in Wallis gebore in 'n tyd toe Bybels baie skaars en duur was.  Die dogtertjie het van kleins af 'n verlange na 'n eie Bybel gehad en het vir jare gespaar om een te kon koop.  In 1800, toe sy 16 jaar oud was, het sy ongeveer 40 km te voet afgelê om 'n eie Bybel te bekom.


In 1802, tydens 'n vergadering van die 'Religious Tract Society', het Thomas Charles, die predikant by wie sy uiteindelik 'n Bybel gekry het, Mary se verhaal vertel. Planne is gemaak om meer Bybels in Wallis beskikbaar te kry en een van die persone teenwoordig, Joseph Hughes, het uitgeroep: "If for Wales, why not for the whole world?"

Op 7 Maart 1804 vergader 300 persone in die 'London Tavern' en die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap word gestig.  Die jong Bybelgenootskap het gou vlerke gekry en na ander lande uitgebrei.

Op 23 Augustus 1820 vergader 'n groep in Tuynhuys in Kaapstad onder voorsitterskap van sir Rufane Donkin, die waarnemende Goewerneur aan die Kaap. Die gevolg? Die stigting van die 'South African Bible Society'.

Vandag werk die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) met sy hoofkantoor in Bellville, uit sewe streekkantore (Bellville, Bloemfontein, Durban, Esikhawini, Kempton Park, Mthatha en Port Elizabeth) om in die Bybelbehoeftes van die land te voorsien.

Die BSA se taak is om, soos alle ander Bybelgenootskappe, bekostigbare Bybels vir almal beskikbaar te stel.

Alle taalgroepe in Suid-Afrika, behalwe Suid-Ndebele, beskik oor 'n volledige Bybel. Die vertaling van die Ou Testament in Suid-Ndebele is tans aan die gang en 'n volledige Bybel in hierdie taal sal oor ongeveer agt jaar beskikbaar wees.

Die BSA is ook verantwoordelik om die Bybel in geskikte formate beskikbaar te stel, byvoorbeeld in braille, op oudiokasset en in groot druk. Vir die moderne mens is die Bybel in elektroniese formaat (CD, MP3 & CD-ROM) ook nodig. Bybelgedeeltes vir spesifieke groepe, byvoorbeeld persone wat deur MIV/VIGS geraak word, word ook beskikbaar gestel.

Gedurende 2009 is 1 156 783 volledige Bybels geproduseer.

In 2009 het die Bybelgenootskap 1 349 651  Bybels en Bybelgedeeltes versprei. Hiervan was 846 299 volledige Bybels. Die Bybelgenootskap het ook 22 941  Bybels en Bybelgedeeltes aan ander Bybelgenootskappe in Afrika gelewer waarvan 21 131  volledige Bybels was.