|
Weet jy … wat die woord "Bybel" beteken Die Afrikaanse woord "Bybel" is afgelei van die Grieks biblia, wat "boeke" beteken. Die vroeë Christene het die versameling boekrolle waaruit hulle geskrifte bestaan het, "biblia" genoem. Hierdie is 'n akkurate term vir die boek wat ons vandag die Bybel noem. Die Bybel word as een boek gebind en gebruik, maar eintlik is dit 'n versameling van 66 boeke in een volume. Die Bybel wat jy in jou hand het, is eintlik 'n soort minibiblioteek!
hoe die Bybel saamgestel is Die Bybel bestaan uit twee gedeeltes wat die Ou Testament en die Nuwe Testament genoem word. Die woord "testament" is 'n vertaling van die Hebreeus berith en die Grieks diatheke. Beide hierdie woorde verwys na 'n "verbond" of 'n plegtige ooreenkoms. Christene beskou die Ou Testament as die Ou Verbond wat God met die Israeliete gesluit het. Die geskiedenis van Israel en die wette van Moses soos dit in die Ou Testament opgeteken is, berei die mensdom voor op die Nuwe Verbond wat in Jeremia 31:31-34 voorspel word. By die laaste paasmaaltyd wat Jesus Christus saam met sy dissipels geëet het, het Hy amptelik die Nuwe Testament of Nuwe Verbond ingestel (Matteus 26:28). Die twee Testamente bestaan saam uit 66 boeke – 39 boeke in die Ou Testament en 27 boeke in die Nuwe Testament.
ou testament Die Ou Testament, wat ook die Joodse Bybel is, is oorspronklik in Hebreeus en Aramees geskryf. Dit bevat die geskiedenis van die Israeliete en God se handelinge met hulle, sowel as profesieë wat die pad voorberei vir die koms van die Messias, die beloofde Verlosser wat God sou stuur. In die Joodse tradisie word dit in drie hoofdele ingedeel: die Torah (die eerste vyf boeke van die Bybel), die Profete en die Geskrifte. Die Christelike Ou Testament bevat presies dieselfde boeke as die Joodse Bybel, maar hulle is in 'n ander volgorde gerangskik na aanleiding van 'n antieke Griekse vertaling.
nuwe testament Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf. Die vier Evangelies in die Nuwe Testament maak Jesus Christus bekend as die beloofde Verlosser wat God sou stuur, en dit vertel van sy lewe en leringe. Die Evangelies is deur vier van Jesus se dissipels geskryf. Die skrywers beskryf almal dieselfde gebeurtenisse, maar elkeen vanuit sy eie, besondere perspektief. Die woord "Evangelie" kom van die Grieks euangelion, wat "goeie nuus" beteken. Die Handelinge van die Apostels vertel van die lewe in die vroeë Christelike kerk en hoe hulle hulle geloof oor die destydse wêreld versprei het. Die Briewe in die Nuwe Testament is deur verskillende mense (onder andere die apostels Paulus en Petrus) aan spesifieke kerke, groepe of persone geskryf. In die briewe word aktuele probleme van die ontvangers aangespreek. Die leerstellings van die Christelike geloof word ook in die Nuwe-Testamentiese briewe uiteengesit, en gelowiges word aangemoedig om volgens daardie geloof te lewe. Openbaring is die laaste boek in die Bybel. Dit is 'n visioen wat die voleinding van die Evangelie van Jesus Christus beskryf.
hoofstuk- en versnommers Die Bybel is nie oorspronklik met hoofstuk- en versnommers geskryf nie; dit is heelwat later bygevoeg om die leser te help om enige Bybelgedeelte makliker te vind. Stephen Langton, 'n Engelse teoloog en Bybelkundige, het vroeg in die 13de eeu nC die hoofstuknommers soos dit vandag lyk, in die Engelse Bybel aangebring. Versverdeling is al van die 6de of 7de eeu nC in die Joodse Bybel gebruik, en hierdie sisteem is in die 16de eeu nC deur die beroemde Franse drukkers, Henri en Robert Estienne, in die Bybel ingevoer.
wanneer en deur wie die Bybel geskryf is Die Bybel is 'n uitsonderlike Boek. Dink net 'n bietjie: 'n groot verskeidenheid skrywers – van skaapwagters tot konings – het vir ten minste 1 200 jaar lank daaraan geskryf, en tog bevat die verskillende boeke een en dieselfde boodskap en begrip van wie God is! Die Ou Testament het die mensdom voorberei vir die Evangelie van Jesus Christus soos dit in die Nuwe Testament opgeskryf is.
wanneer die Bybel geskryf is Lank voordat die dinge wat in die Ou Testament beskryf word, neergeskryf is, om die waarheid te sê lank voordat die skryfkuns uitgevind is (4de millennium vC), is hierdie geskiedenis mondelings van geslag tot geslag oorgedra deur pa's, ma's, leiers in die gemeenskap en storievertellers. In 'n stadium is hierdie vertellings neergeskryf. Omdat die materiaal waarop die mense geskryf het, ná 'n tyd vergaan het (bv papirusrolle), was dit deur die jare nodig om die teks oor te skryf. Die neerskryf en oorskryf van die boeke van die Ou Testament het vir baie eeue voortgegaan. Ons weet nie presies in watter jaar sommige van hierdie boeke geskryf is nie. Daar is wel ander boeke waaroor daar tog 'n mate van eenstemmigheid bestaan ten opsigte van die tyd wanneer hulle geskryf is. Die boeke van die Ou Testament is hoofsaaklik gedurende die 6de eeu vC deur die Joodse ballinge in Babilon versamel en geredigeer. Die versameling boeke waaruit die Ou Testament bestaan, is teen die einde van die 1ste eeu nC vasgestel en dit het tot vandag toe onveranderd gebly.
Omdat die Nuwe Testament heelwat meer onlangs geskryf is, kan die meeste Nuwe-Testamentiese boeke redelik akkuraat gedateer word. Dit is hoofsaaklik in die tweede helfte van die 1ste eeu nC geskryf. Die Evangelies sowel as die Handelinge van die Apostels is deur ooggetuies geskryf, alhoewel daar ook van die getuienis van ander mense behalwe die skrywers gebruik gemaak is. Die boeke van die Ou Testament is oor 'n tydperk van honderde jare geskryf, maar die Nuwe Testament is nie meer as 'n halfeeu ná die gebeurtenisse waarvan dit getuig, neergeskryf nie. Minder as 'n eeu nadat die Nuwe-Testamentiese boeke geskryf is, is dit deur die breë Christengemeenskap as gesaghebbend beskou, en teen die einde van die 4de eeu nC is die boeke van die Nuwe Testament soos ons dit vandag het, amptelik deur die kerk as gesaghebbend verklaar.
die skrywers 'n Groot verskeidenheid menslike skrywers was betrokke by die neerskryf van die boeke van die Bybel. Dit sluit profete soos Moses, Daniël en Jesaja, geleerde mense soos Esra, konings soos Dawid en Salomo, en apostels van Jesus Christus soos Petrus en Paulus in. As gevolg van die verskeidenheid skrywers, "hoor" die Bybelleser die Woord van God na hom of haar toe kom deur baie verskillende style en stemme en vanuit verskillende perspektiewe. Die feit dat so 'n groot aantal verskillende mense 'n versameling boeke oor so 'n lang tydperk kon skryf en dat al hierdie boeke dieselfde sentrale boodskap en begrip van God het, kan net as 'n Goddelike wonderwerk beskryf word. Die Bybel is werklik 'n ongelooflike boek – om die waarheid te sê, dit is die Woord van God aan mense van alle ouderdomme en nasionaliteite!
waarom ons die Bybel kan vertrou Daar is mense wat twyfel aan die suiwerheid en die egtheid van die Bybel wat ons vandag besit. Christene glo dat die Bybel die Woord van God is en dat God self menslike skrywers geïnspireer het om die boeke van die Bybel te skryf. Afgesien van die feit dat die Bybel self daarop aanspraak maak dat dit die geïnspireerde Woord van God is (kyk bv 2 Timoteus 3:16), is daar heelwat ander feite wat ook genoem kan word om hierdie geloofsoortuiging te bevestig. Die geleerdes – Jode sowel as Christene – wat die Skrif deur die eeue heen oorgeskryf het, het baie noukeurig te werk gegaan. Uit die groot aantal Bybelse manuskripte wat ontdek is, is dit duidelik dat hierdie mense akkurate werk gedoen het.
Alhoewel die oorspronklike manuskripte van die Bybelboeke lankal vergaan het (as gevolg van die bederfbare aard van die antieke papirusrolle), bestaan daar tienduisende Ou-Testamentiese manuskripte en fragmente van manuskripte wat van reg oor die antieke wêreld kom. 'n Goeie voorbeeld van antieke manuskripte wat die betroubaarheid van die teks van die Ou Testament bevestig, is die Dooie See-rolle wat van die 3de eeu vC tot die 1ste eeu nC dateer.
Tot op hede is daar meer as 5 000 manuskripte en fragmente van manuskripte van die Nuwe Testament ontdek. Soos in die geval van die manuskripte van die Ou Testament, is hulle op baie verskillende plekke in die antieke wêreld ontdek. Sommige van die beskikbare kopieë is net meer as 'n eeu ná die skryf van die oorspronklike manuskripte gemaak. As 'n mens hierdie oorweldigende getuienis ten opsigte van die suiwerheid en die egtheid van die Bybelteks in ag neem, kan 'n mens heelhartig met sir Frederic Kenyon saamstem: "Die Christen kan die hele Bybel in sy hand neem en sonder vrees of huiwering sê dat hy die ware Woord van God vashou, die Woord van God wat sonder wesenlike verlies deur die eeue heen van geslag tot geslag oorgelewer is."
Ondanks die swaar vervolging van die Christene en hulle geloof, en ondanks pogings om alle bestaande Bybels te vernietig (bv pogings deur die Romeinse keiser Diocletianus van ongeveer 302-305 nC), sowel as venynige akademiese aanvalle vanuit wetenskaplike, psigologiese en filosofiese kringe, bly die Bybel steeds die mees gepubliseerde boek in die wêreld vandag. Miljoene mense se lewens is deur die eeue deur hierdie Boek beïnvloed. Tot vandag toe word mense steeds deur die goddelik-geïnspireerde boodskap van die Bybel aangespreek en verander. Baie gelowiges, waaronder sommige van die Nuwe-Testamentiese skrywers, het al 'n martelaarsdood gesterf vir hulle geloof in die God van die Bybel.
Om die boodskap van die Bybel te glo en te verstaan, is uiteindelik 'n stap van geloof. Ons bede is dat God self, die Skrywer van hierdie Boek, vir jou 'n gelowige hart mag gee sodat jy sy persoonlike boodskap aan jou kan begryp en glo.
|