English (United Kingdom)
Tuiste wat doen ons jongste nuus
jongste nuus
bybelgenootskap herdenk 190 jaar

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) herdenk op 23 Augustus sy 190ste bestaansjaar.  Op dié dag in 1820 vind die stigtingsvergadering van die 'South African Bible Society', 'n hulpvereniging van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, in die destydse Government House (Tuynhuys) onder voorsitterskap van die waarnemende Goewerneur, Sir Rufane Donkin, plaas.

Hierdie klein hulpvereniging het gegroei tot wat ons vandag ken as die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 'n ten volle outonome organisasie wat as 'n artikel 21-maatskappy sonder winsmotief funksioneer.  Die Genootskap met sy hoofkantoor in Bellville, is landswyd in 11 streke verdeel.  

In 1820 is die Genootskap gestig met doel om te verseker dat die Bybel vir die inwoners van die Kaap beskikbaar is.  Vandag is dit steeds die taak van die Bybelgenootskap om bekostigbare Bybels vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate beskikbaar te stel sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.

Miljoene Bybels in verskillende tale en formate is reeds deur die Bybelgenootskap beskikbaar gestel vir verspreiding in Suid-Afrika.  Sedert 1965, toe die BSA begin het om as 'n outonome organisasie los van die moedergenootskap in Engeland te funksioneer, is reeds sowat 30 miljoen Bybels versprei.  Sedert die verskyning van die eerste Afrikaanse Bybel in 1933 is byna 11 miljoen (10 679 508) volledige Afrikaanse Bybels deur die Bybelgenootskap in Suid-Afrika versprei.

Gedurende 2009 het die Bybelgenootskap sowat 1,3 miljoen Bybels en Bybelgedeeltes in 131 verskillende tale in Suid-Afrika versprei.  Hiervan was 846 299 Bybels volledige Bybels waarvan byna 74% Bybels Standaardbybels (swart hardeband) was wat teen minder as publikasiekoste beskikbaar gestel word.

Die Bybelgenootskap is ook verantwoordelik vir die vertaling van die Bybel in al die tale van Suid-Afrika.  Daar word dikwels na Bybelvertaling is die hart van Bybelgenootskapwerk verwys.  Reeds van die begin van Bybelvertaling in Suid-Afrika was die Bybelgenootskap betrokke.  Die heel eerste volledige Bybelboek wat in 'n Suid-Afrikaanse taal verskyn het, was die Evangelie volgens Lukas wat deur Robert Moffat in Tswana vertaal is en in 1830 in Kaapstad gedruk is.  Die Bybelgenootskap het die papier daarvoor verskaf en ongeveer R100 bygedra tot die drukkoste.  In 1857 verskyn die Tswana Bybel, die eerste volledige Bybel in 'n Suid-Afrikaanse taal.

Tien van Suid-Afrika se amptelike tale beskik oor 'n volledige Bybel, en die Bybelgenootskap is by almal betrokke.  Een amptelike taal, Suid-Ndebele, wag nog op die volledige Bybel.  Daar word aan die vertaling gewerk en die Bybelgenootskap hoop om binne 'n paar jaar dié Bybel bekend te stel.

"Die voltooiing van die Suid-Ndebele Bybelvertaling is van kardinale belang vir die Kerk, vir die ontwikkeling van die taal en inderdaad vir elke spreker van dié taal," sê ds Gerrit Kritzinger, die Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  "Daarom is daar besluit om die herdenking van die Bybelgenootskap se 190ste bestaanjaar op 'n baie spesiale manier aan dié een taalgroep in Suid-Afrika wat nog nie die Bybel in hulle eie taal het nie, Suid-Ndebele, te verbind."

'n Spesiale verjaardagprojek is geloods waarmee daar gepoog word om R1 miljoen vir die voltooiing van die Suid-Ndebele Bybelvertalingsprojek in te samel.  Mense wat belangstel om die projek te ondersteun, kan www.biblesociety.givengain.org besoek om 'n bydrae te maak.  Vir meer besonderhede kan 'n e-pos aan Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien gestuur word of die naaste Bybelgenootskapkantoor gekontak word.

- 18 Augustus 2010 -