English (United Kingdom)
Tuiste wat doen ons vertalingsprojekte
vertalingsprojekte
die bybel in die tale van ons mense

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het onlangs die 150ste bestaansjaar van die eerste Bybelvertaling in 'n Suid-Afrikaanse taal, die Bybel in Tswana, asook die eeufees van die Tsonga Bybel, herdenk.  Gedurende 2008 is die 75ste herdenking van die Bybel in Afrikaans gevier en in 2009 was die Bybel in Xhosa 150 jaar oud!

Om die Bybelse boodskap toeganklik en verstaanbaar te maak, was nog altyd 'n belangrike deel van Bybelgenootskapwerk.  Die vertaling van die Bybel in die tale van die mense van Suid-Afrika is noodsaaklik om hierdie doel te bereik.

Alhoewel die Nuwe Testament in Suid-Ndebele beskikbaar is, is dit die enigste amptelike taal in Suid-Afrika wat nie 'n volledige Bybel het nie.  Vertalers werk tans aan die Ou Testament en daar word gehoop om hierdie vertaling teen 2010 te voltooi.

Die bronteksgeoriënteerde vertaling in Afrikaans waarmee in 2006 begin is, is goed op dreef.  Proefvertalings van 'n aantal Bybeldele is beskikbaar by jou naaste Bybelhuis of besoek die webtuiste van hierdie vertalingsprojek.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het in 1986 'n Nuwe Testament en Psalms in moderne Zulu gepubliseer, maar is daar nie met die vertaling van die Ou Testament voortgegaan nie.  Op versoek van die Zulu kerke het die Bybelgenootskap egter in Augustus 2009 met die vertaling van die Ou Testament begin.