Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Tuiste wat doen ons jongste nuus
jongste nuus

bybelvertaling voltooi

Voor die einde van die jaar sal al die amptelike tale van Suid-Afrika oor 'n volledige Bybel beskik. Die vertalers van die Bybel in isiNdebele (Suid-Ndebele), het die volledige Bybelvertaling gefinaliseer en die manuskrip aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika oorhandig.  IsiNdebele is tans die enigste amptelike taal waarin daar nie 'n Bybel beskikbaar is nie.

Die behoefte aan 'n Bybel in hierdie taal is reeds jare gelede geïdentifiseer en die Bybelgenootskap is genader om met so 'n vertaling te begin.

Die Markus-evangelie, die eerste Bybelboek ooit in isiNdebele, is in 1977 gepubliseer.  In 1986 verskyn die Nuwe Testament en 'n keur uit die Psalms.  Hierna het die werk tot stilstand gekom en eers 11 jaar gelede, in 2000, is daar met die vertaling van die Ou Testament en 'n grondige hersiening van die Nuwe Testament begin.

Drie vertalers, past David Mahlangu, eerw Peter Mabena en prof Andries Breytenbach, die brontaalkenner en projekleier, het voltyds aan hierdie taak gewerk.  Hulle is verder bygestaan deur 'n hersieningskomitee wat gereeld vergader het om die teks wat die vertalers voorberei het na te gaan en verdere aanbevelings te maak.  "Bybelvertaling is 'n lang, tydrowende proses, maar dit is so belangrik, en dit was dan ook al die tyd ons doel, om uiteindelik 'n teks getrou aan die brontekste van die Bybel, maar in suiwer isiNdebele, in die hande van die mense te plaas," vertel prof Breytenbach.

Met die oorhandiging van die finale teks, het 'n span by die Bybelgenootskap onmiddellik begin met die voorpublikasie-werk wat onder andere bladuitleg, proeflees en die druk van die teks insluit.  Hierdie proses sal ongeveer nege maande neem en daar word hard gewerk om voor Kersfees 2012 vir Ndebelesprekers die Bybel in hulle moedertaal beskikbaar te stel.

~ 21 Februarie 2012 ~