Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Tuiste wat doen ons jongste nuus afrika en asië loop voor met bybelvertalings

afrika en asië loop voor met bybelvertalings

Afrika en Asië is tans die voorlopers wat Bybelvertalings betref. Die volledige Bybel is reeds in 182 van Afrika se ongeveer 2 000 tale vertaal en gepubliseer en in 186 van die tale wat in Asië gepraat word, insluitend Australië, Nieu-Seeland en die Pasifiese Eilande.

Die volledige Bybel is wêreldwyd in slegs 475 van die ongeveer 6 600 tale wat in die wêreld gepraat word, beskikbaar.

Verlede jaar het ses tale wêreldwyd vir die eerste keer 'n volledige Bybel ontvang. Vier hiervan was in Afrikatale: die Bybel het vir die eerste keer in Dogon, 'n taal van Mali verskyn, asook in Ethiopië se Gurage, in Klao, 'n taal wat in Liberië gepraat word en in Tagbana:Senoufo van die Ivoorkus (Côte d'Ivoire). Verder het die Kashmirisprekendes van Indië ook vir die eerste keer 'n Bybel ontvang en in Ecuador het die Bybel in Quichua canar vir die eerste keer verskyn.

Nuwe Testamente is nou in 1 240 tale beskikbaar en in 823 tale is daar ten minste een Bybelboek beskikbaar.  Dit bring mee dat 2 538 tale oor ten minste een Bybelboek beskik.

Die feit dat die Bybel beskikbaar is in die wêreld se grootste tale soos Chinees, Engels, Spaans, Frans en Arabies, bied aan meer as die helfte van die wêreldbevolking toegang tot die Bybel in 'n taal wat hulle kan verstaan. Ongeveer 350 miljoen mense het egter nie eers een Bybelboek in hulle moedertaal beskikbaar nie. Sowat 97% van die tale wat nog nie oor 'n Bybel beskik nie, is in Latyns-Amerika, Afrika en Suidoos-Asië.

"Bybelvertaling is die hart van Bybelwerk. Wêreldwyd word betroubare Bybelvertalings onderneem want 'n Bybel vir elkeen in die taal van sy keuse is die visie van die 146 Bybelgenootskappe wat in meer as 200 lande en gebiede werksaam is," sê ds Gerrit Kritzinger, die Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

In Suid-Afrika is die vertaling van die Bybel in isiNdebele (Suid-Ndebele), die laaste een van ons amptelike tale wat nog nie oor 'n volledige Bybel beskik nie, einde verlede jaar voltooi. Hierdie Bybel sal teen November 2012 bekendgestel word.

~ 3 April 2012 ~