Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Tuiste wat doen ons jongste nuus nuus argief bybelgenootskap stel nuwe bybelvertalingsprojek bekend

bybelgenootskap stel nuwe bybelvertalingsprojek bekend

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het pas begin met die vertaling van 'n Engelse Bybel vir Dowes (EBD) vir Suid-Afrika en vir die res van Afrika waar Engels gebruik word. Op Sondag, 14 Augustus 2011, tydens die oggenddiens in die De la Bat-gemeente, Bellville, word hierdie vertalingsprojek amptelik aan die dowe gemeenskap bekendgestel.

Dié vertaling, in doofgerigte Engels, is veral bedoel vir doofgeborenes en mense wat Gebaretaal gebruik. Aangesien mense gesproke taal deur veral nabootsing en verbale kommunikasie leer, het doofgeborenes spesifieke taal- en leesbehoeftes. Vir die meeste Dowes is Gebaretaal hulle moedertaal en sal hulle sonder twyfel eerder 'n visuele Bybel met die Gebaretaal wat hulle verstaan, verkies. So 'n projek is egter moeilik haalbaar. Verskeie faktore het dus gelei tot die besluit om eerder 'n geskrewe Bybel in Engels vir Dowes aan te pak. Eerstens sal 'n visuele Bybel 'n baie duur projek wees want in Suid-Afrika alleen is daar 12 verskillende Gebaretale gedokumenteer en in Afrika ten minste 150. Sou 'n visuele Bybel dus as die antwoord gesien word, sal honderde verskillende projekte onderneem moet word. 'n Verdere probleem is dat die Bybelteks leen hom nie oral tot die gebruik van Gebaretaal nie. Die volledige Bybelteks kan dus moeilik deur die visuele medium vir Dowes toeganklik gemaak word.

Daar is wel in sommige lande (onder andere Australië) reeds met so 'n visuele Bybel in Gebaretaal begin, maar nêrens in die wêreld is die projek nog afgehandel nie.

Baie skole vir Dowes in Suid-Afrika en Afrika gebruik Engels as onderrigmedium, maar ongelukkig is bestaande Bybelvertalings vir die meeste Dowes moeilik verstaanbaar en dit kan maklik tot verwarring aanleiding gee. Navorsing toon dat die leesvaardigheid van die meeste volwasse Dowes in Suid-Afrika gelykstaande is aan dié van horende kinders tussen 8 en 10 jaar oud. Slegs 'n klein persentasie dowe leerders slaag uiteindelik Graad 12.

Hierdie Bybel sal dus so vertaal word dat die meeste Dowes wat hulle onderrig in Engels ontvang, dit sal verstaan. 'n Beperkte woordeskat sal gebruik word asook baie voetnote en illustrasies om sekere begrippe in die teks vir Dowes te verduidelik.

"Die Bybelgenootskap het in 2008 'n Bybel vir Dowes in Afrikaans bekendgestel. Hierdie vertaling geniet groot sukses in die Afrikaanssprekende dowe gemeenskap en ons glo dat 'n soortgelyke Engelse vertaling die Woord van God vir baie meer Dowes in ons eie land, asook in die res van Afrika toeganklik sal maak," sê ds Gerrit Kritzinger, Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Die projekleier en eksegeet vir die EBD-vertalingsprojek is dr Rocco Hough, 'n kenner op die gebied van Dowe taalgebruik. Prof Bart Oberholzer sal as brontaalkenner dien en mnr Christopher Mongezi Galada, 'n dowe persoon, sal as vertaler meewerk. 'n Engelse taalkundige sal ook by die projek betrek word asook 'n aantal Dowes in Suid-Afrika en Afrika wat as lesers die verstaanbaarheid van die vertaling sal toets.

~ 11 Augustus 2011 ~