Volgens 'n verslag wat so pas deur die Wêreldbond van Bybelgenootskappe vrygestel is, het die 147 Bybelgenootskappe wat in meer as 200 lande werksaam is, verlede jaar 29 391 276 volledige Bybels versprei. Dit is 3% meer as die vorige jaar.
Die meeste van hierdie Bybels, 12,1 miljoen, is deur Bybelgenootskappe in Noord- en Suid-Amerika versprei. In Asië en die Stille Oseaan streke is bykans 10 miljoen Bybels versprei, gevolg deur 5,1 miljoen in die lande van Afrika. 'n Verdere 2,1 miljoen volledige Bybels is in Europa en die Midde-Ooste versprei.
Behalwe volledige Bybels, het Bybelgenootskappe meer as 11 miljoen Testamente, 15 miljoen Bybelgedeeltes en meer as 310 miljoen Bybelseleksies regoor die wêreld versprei. Baie Bybelgenootskappe is nóú betrokke by geletterdheidswerk in hulle onderskeie lande en byna 65 miljoen Bybelgedeeltes en -seleksies wat spesifiek vir nuwe lesers voorberei is, is versprei. In totaal het Bybelgenootskappe in 2009 'n verstommende 430 miljoen Bybels en Bybelgedeeltes wêreldwyd versprei.
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) het verlede jaar meer as 1,3 miljoen Bybels en Bybelgedeeltes in 131 verskillende tale versprei. Hiervan was 846 299 volledige Bybels. Getrou aan sy missie om bekostigbare Bybels vir almal beskikbaar te stel, was bykans 74% van hierdie Bybels Standaardbybels, met ander woorde Bybels wat teen minder as publikasiekoste versprei is.
"Alhoewel die wêreld in 2009 in die grootste resessie in baie jare vasgevang was, kon Bybelgenootskappe meer Bybels versprei waarvoor ons baie dankbaar is," sê ds Gerrit Kritzinger, die Uitvoerende Hoof van die BSA. "Die taak is egter nog nie afgehandel nie. Sprekers van meer as 4 000 tale beskik nog nie oor selfs een boek van die Bybel in hulle eie taal nie, en in ons eie land het onlangse navorsing deur Ipsos-Markinor aangedui dat 10% van Christenhuishoudings het glad nie 'n Bybel in die huis nie," voeg hy by. "Die wonderlikste is egter dat hierdie nie net oor koue statistieke handel nie. Agter elke Bybel is daar 'n persoon wat dit ontvang, baie vir die heel eerste keer."
In ons eie land, sowel as wêreldwyd, berig Bybelgenootskappe oor mense vir wie 'n eie Bybel hulle kosbaarste besitting is. "Ek is al 14 jaar lank 'n Christen, maar het nog nooit 'n eie Bybel besit nie en vandag het ek een gekry," vertel Chen Guo Zi, 'n 80-jarige vrou wat een van die meer as 4 miljoen Bybels wat verlede jaar in China versprei is, ontvang het.
Pauline, 'n ontvanger van een van die 80 000 Bybels wat die Bybelgenootskap van Rwanda verlede jaar versprei het en wat as gevolg van die volksmoord in haar land baie gely het, sê: "Ek het hoop vir die toekoms want ek glo in God en ek glo dat Hy elke dag vir my sal voorsien. My Bybel is vir my alles want dit is waaruit ek my krag put.
Uit een van Suid-Afrika se gevangenisse ontvang die Bybelgenootskap 'n briefie van Adolf nadat hy 'n eie Bybel ontvang het: "Vir my, Adolf, is die Bybel 'n padkaart om my die regte weg te wys. In die gevangenis, ek sê dit met 'n opregte hart, help die Bybel 'n mens, dit gee krag en liefde en maak skoon soos God wil hê ons moet wees. In tye wat 'n mens alleen voel troos die Bybel. 'n Mens moet net die boodskap van die Bybel uitleef sodat ander dit ook in jou kan sien." Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het in 2009 die meeste Bybels ooit in een jaar, 64 313 eksemplare, gratis aan 241 gevangenisse gelewer.
- 21 Julie 2010 -






