Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Tuiste wat doen ons jongste nuus nuus argief bybelpapier vir china dringend benodig

bybelpapier vir china dringend benodig

Die afgelope 25 jaar help Bybelgenootskappe wêreldwyd met die voorsiening van Bybelpapier sodat Bybels in China vir Chinese Christene gedruk kan word.  Die voorsiening van papier help om Bybels bekostigbaar te hou vir die miljoene Christene in China.

Gedurende hierdie tydperk is daar reeds 50 miljoen Bybels gedruk en onder Christene in China versprei.  

Die Kerk in China beplan om vanjaar 2,6 miljoen bekostigbare Bybels in China te versprei.  Die koste van die papier om hierdie Bybels te kan druk, beloop sowat R20,3 miljoen.  

Teen Augustus vanjaar het Bybelgenootskappe reeds R9,1 miljoen bygedra wat die papierkoste van 1,2 miljoen Bybels kon dek.  'n Verdere 1,4 miljoen Bybels moet egter nog gedruk word en daarvoor word R11,2 miljoen dringend voor die einde van die jaar vir Bybelpapier benodig.

Die Chinese Christenraad help tans ook met die voorsiening van Bybelpapier, maar hulle fondse is uiters beperk.

Net meer as 40 jaar gelede was die Bybel nog 'n verbode boek in China.  Vandag is daar volgens amptelike statistieke sowat 29 miljoen Christene in dié land.  Nie-amptelik is daar na raming 100 miljoen Christene in China.

Alhoewel Bybelpryse in China sover moontlik gesubsidieer word om te verseker dat Christene die Bybel kan bekostig, bly dit vir die meeste Christene 'n duur item.  Sewentig persent van alle Christene in China woon op die platteland waar die meeste inwoners so min as R14,00 per dag verdien.  Ongeveer 20 kg mielies of 40 eiers moet verkoop word om een Bybel te kan beskostig.

"Christene in China is honger vir die Woord en almal wil graag 'n Bybel besit," sê ds Gerrit Kritzinger, Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.  "Die Kerk in China toon fenomenale groei en dit is uiters noodsaaklik dat daar in hulle Bybelbehoeftes voorsien moet word.  Verder is daar nog sowat 1,2 miljard Chinese wat nog nie met die evangelie bereik is nie, dit is een derde van die wêreld se nie-Christene.  Ons kan nie toelaat dat daar 'n tekort aan Bybels ontstaan weens 'n gebrek aan fondse vir Bybelpapier nie."

Enige iemand wat wil help met fondse vir Bybelpapier vir China, kan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika kontak by 021 910 8705 of besoek die webwerf www.bybelgenootskap.co.za vir meer inligting.

- 5 Oktober 2010 -