Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het R50 000 bewillig vir Bybels vir Haïti.
Baie predikante is in die aardbewing van 12 Januarie dood en kerke is verwoes. Tog stroom mense na hierdie plekke van aanbidding want behalwe kos, water en ander lewensmiddele benodig hulle die troos en hoop wat slegs die Woord van die Here bied. Volgens me Magda Victor, die Hoofsekretaris van die Bybelgenootskap van Haïti, is die behoefte aan Bybels en Bybelgedeeltes baie groter as wat aanvanklik vermoed is.
Daar is 'n onmiddellike behoefte aan ten minste 20 000 Kreoolse Bybels en 4 000 Franse Bybels. Die Bybels sal in die komende maande gratis voorsien word aan mense wat in baie gevalle alles verloor het, ook hulle Bybels. Die koste om hierdie Bybels te laat druk en na Haïti te verskeep, beloop sowat R359 250.
Twee spesiale Bybelgedeeltes, God is our Shelter and Strength en Hope and Compassion, is onmiddellik in Frans en Kreools voorberei en laat druk. Daar word beplan om sowat 300 000 eksemplare te versprei waarvan die eerste besending reeds op Haïti aangekom het. 'n Bedrag van R900 000 word hiervoor benodig.
'n Nuwe Bybelhuis wat in 2009 in Port-au-Prince geopen is, het staande gebly, maar die dak van die gebou is beskadig. Al die personeel het oorleef, maar almal het skade gely en vriende of familie in die verwoestende aardbewing verloor.
Wêreldwyd werk Bybelgenootskappe saam om deur die voorsiening van Bybels en Bybelgedeeltes die Bybelgenootskap van Haïti te ondersteun. Ds Gerrit Kritzinger, Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het alle Suid-Afrikaners versoek om Bybelgenootskappe hiermee te help. "Baie Haïtiane het alles verloor en verkeer tans in groot nood, ook op geestelike vlak. U bydrae vir hierdie doel, sal die Bybelgenootskap van Suid-Afrika help om die Bybelnood op hierdie eiland aan te spreek."
Indien u 'n bydrae wil maak vir Bybels vir Haïti, kontak u naaste Bybelhuis.
- 1 Februarie 2010 -






