"Ek is in Shanghai gebore en het in 'n Christenhuis groot geword.
"Die enigste Bybel in ons huis was my ouma se Bybel wat sy veilig in 'n laaikas langs haar bed gehou het. Ek onthou haar soos sy elke dag op die stoep gesit het en haar Bybel gelees het. By haar het ek geleer om die Bybel lief te hê. Uit daardie Bybel het sy my Christenwaardes geleer, maar die belangrikste is dat sy vir my geleer het om elke dag die Bybel te lees en te bid.
"Met die uitbreek van die Kulturele Revolusie in China is ons kerk gesluit en daardie Bybel is vernietig. Ek het egter steeds op die Here vertrou en uiteindelik na die beëindiging van die Kulturele Revolusie is die kerke heropen en ek het weer 'n Bybel wat my hele lewe rig, ontvang. My grootste wens is egter dat daar genoeg Bybels in China beskikbaar sal wees sodat die miljoene Christene wat nog nie 'n eie Bybel het nie, een kan ontvang." Aan die woord is ouderling Fu, een van die Christenleiers in China.
Die Wêreldbond van Bybelgenootskappe, waarvan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika 'n volle lid is, help in vennootskap met die Chinese Christenraad en die Amity Drukkery in Nanjing om Bybels vir die mijoene Christene in China beskikbaar te stel.
Bybelgenootskappe help veral met fondse vir die nodige Bybelpapier. Daar word beplan om vanjaar 3 205 000 Bybels vir Christene in China te druk. Bykans R22 miljoen wat Bybelpapier insluit, word benodig om hierdie Bybels so bekostigbaar moontlik beskikbaar te stel.
Die Christenbevolking word amptelik op 30 miljoen gereken, maar daar is na raming 100 miljoen Christene in dié land. Die meeste woon op die platteland en is uiters arm. Meer as 90 miljoen Chinese moet op ongeveer een Amerikaanse dollar per dag oorleef.
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika beplan om vanjaar sowat R380 000 by te dra sodat meer Christene in China 'n eie Bybel kan ontvang.
~ 3 Februarie 2012 ~






