Die King James Version (KJV) van die Engelse Bybel herdenk vanjaar sy 400ste bestaansjaar. Die KJV is vandag steeds vir baie Christene die Bybel van hulle keuse. Miljoe
ne eksemplare van hierdie vertaling is die afgelope 400 jaar regoor die wêreld versprei en dit bly steeds ’n topverkoper. Bybelgenootskappe wêreldwyd versprei ongeveer 600 000 eksemplare van hierdie Bybel per jaar. In Suid-Afrika het die Bybelgenootskap verlede jaar byna 33 000 gedrukte eksemplare van hierdie Bybel versprei en ’n verdere 38 000 King James Bybels is gratis op selfone afgelaai.
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het besluit om saam met die res van die wêreld waar Engels gepraat word, hierdie geleentheid te vier.
Die KJV is in 1611 gepubliseer en dit het baie gou die mees geliefde Bybel van miljoene Engelssprekendes geword. Die KJV het sy pad regoor die wêreld gevind, byvoorbeeld aan boord van die Mayflower saam met die pelgrimvaders op pad na Amerika, saam met seelui wat die oseane van die wêreld deurkruis het en saam met sendelinge na Indië en Afrika. Dit was onder andere die Bybel van die 1820 Setlaars wat na Suid-Afrika gekom het.
Die KJV het ook ’n reuse invloed op die Engelse taal uitgeoefen. Dr David Crystal, ’n taalkundige wat ’n kenner is oor die ontwikkeling van die Engelse taal, stel dit baie duidelik dat niks of niemand, nie eers Shakespeare, meer vir Engels gedoen het as juis hierdie vertaling van die Bybel nie. Daar word vandag steeds daagliks uitdrukkings gebruik wat hulle ontstaan aan die KJV te danke het: “A fly in the ointment” (Prediker 10:1), “a wolf in sheep’s clothing” (Matteus 7:15), “By the skin of your teeth” (Job 19:20) om maar net ’n paar te noem.
Die 400ste bestaansjaar word in Suid-Afrika egter met ’n wyer tema, ‘Die Bybel is vir almal’, herdenk. Verskeie geleenthede, byvoorbeeld ’n motorfietstoer deur die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Gauteng om die Bybel te bevorder, ‘n teologiese dag, ’n uitstalling, ‘The Book of Books’, by die Nasionale Biblioteek in Kaapstad en ‘n ‘Songs of Praise’-geleentheid word vanjaar beplan om mense se aandag op die KJV en op Bybelvertalings in al die tale van ons land te fokus.
Die feesjaar word op Vrydag, 4 Maart 2011, tydens ’n galadinee in die Indaba Hotel in Fourways, Johannesburg, bekend gestel. By dié geleentheid sal daar ‘n hele aantal huidige en voormalige vertalers van Suid-Afrikaanse Bybels teenwoordig wees. Tydens die bekendstellingsgeleentheid sal daar veral op die vertaling van die Bybel in Suid-Ndebele gefokus word. Suid-Ndebele is die enigste amptelike taal in Suid-Afrika wat nog nie oor ‘n volledige Bybel beskik nie.
Twee spesiale Engelse Bybels verskyn vanjaar ter herdenking van die 400ste bestaansjaar van die KJV: ’n Spesiale gedenkuitgawe van die KJV met bykomende materiaal in volkleur, word teen R125 per eksemplaar beskikbaar gestel. ‘n Uitgawe van die Good News Bybel wat teen slegs R28 per eksemplaar verkoop, is ook gepubliseer. Die bedoeling van hierdie Uitreikbybel is om veral kerke en sendinggenootskappe in staat te stel om meer Bybels met hulle beskikbare fondse vir uitreike te kan aankoop, sowel as om die Bybel in die hande te plaas van diegene wat nie ’n Standaardbybel kan bekostig nie.
~ 2 Maart 2011 ~






