Die komende naweek, 19-21 Augustus 2011, vind 'n baie spesiale feesgeleentheid in Durban plaas. Die Engelse King James Bybel (KJV) herdenk vanjaar sy 400ste bestaansjaar en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika herdenk dié geleentheid saam met die res van die wêreld waar Engels gepraat word.
Die hoofgeleentheid tydens die nasionale feesvieringe is 'n 'Songs of Praise'-geleentheid wat Vrydagaand, 19 Augustus, om 19:00 in die Durban Christian Centre, (Jesus Dome), plaasvind. 'n Massakoor van ongeveer 300 lede sal deur die welbekende Richard Cock gedirigeer word, bygestaan deur die orrelis, Christopher Cockburn, en 'n blaasensemble. Toegang tot hierdie geleentheid is gratis, maar toegangskaartjies word benodig. Vir kaartjies, sowel as vir meer inligting oor die feesnaweek, kan Letitia Timms geskakel word by tel: 031 207 4933.
Die Saterdagoggend vind 'n 5 km-Bybelstap vir die hele gesin op die Durbanse Strandfront plaas en die Sondagoggend, tydens verskeie eredienste in en om Durban, sal daar op die KJV gefokus word.
Die KJV is in 1611 gepubliseer en dit het baie gou die mees geliefde Bybel van miljoene Engelssprekendes geword. Die KJV het sy pad regoor die wêreld gevind, byvoorbeeld saam met seelui wat die oseane van die wêreld deurkruis het en saam met sendelinge na Indië en Afrika. Dit was onder andere die Bybel van die 1820-Setlaars wat na Suid-Afrika gekom het.
Die KJV het ook ’n reuse invloed op die Engelse taal uitgeoefen. Dr David Crystal, ’n taalkundige wat ’n kenner is oor die ontwikkeling van die Engelse taal, stel dit baie duidelik dat niks of niemand, nie eers Shakespeare, meer vir Engels gedoen het as juis hierdie vertaling van die Bybel nie. Daar word vandag steeds daagliks uitdrukkings gebruik wat hulle ontstaan aan die KJV te danke het: “A fly in the ointment” (Prediker 10:1), “a wolf in sheep’s clothing” (Matteus 7:15), “By the skin of your teeth” (Job 19:20) om maar net ’n paar te noem.
Die KJV is vandag vir baie Christene steeds die Bybel van hulle keuse. Miljoene eksemplare van hierdie vertaling is die afgelope 400 jaar regoor die wêreld versprei en dit bly steeds ’n topverkoper. Bybelgenootskappe wêreldwyd versprei ongeveer 600 000 eksemplare van hierdie Bybel per jaar. In Suid-Afrika het die Bybelgenootskap verlede jaar byna 33 000 gedrukte eksemplare van hierdie Bybel versprei en ’n verdere 38 000 King James Bybels is gratis op selfone afgelaai.
~ 15 Augustus 2011 ~






