Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Banier
Tuiste wat doen ons jongste nuus nuus argief venda bybel vier 75 jaar

venda bybel vier 75 jaar

Op Sondag, 17 Julie 2011 vind 'n baie spesiale geleentheid plaas in die Evangelies Lutherse Kerk in Thohoyandou, 'n dankdiens ter herdenking van die Venda Bybel 75 jaar75ste bestaansjaar van die Venda Bybel. Die program begin om 10:00.

Sang, musiek en Bybelvoorlesings sal luister aan die feesdiens verleen. Die prediker is biskop SWS Sihlangu van die Lutherse Kerk. Ds Gerrit Kritzinger, Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, mev FF Dzhombere, die Uitvoerende Burgemeester van die Vhembe distrik sowel as die koning, Sy Eksellensie Thovhele Mphaphuli sal boodskappe bring. Die hele gemeenskap word uitgenooi om saam met Vendasprekende Christene die dag te vier en saam met hulle die Here te dank vir die Bybel in hulle eie taal.

Die eerste volledige Bybel in Venda is in 1936 deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gepubliseer. Die Bybel is hoofsaaklik vertaal deur die bekende taalkundige, dr Paul E Schwellnuss, 'n sendeling van die Berlynse Sendinggenootskap. Dr Schwellnuss is bygestaan deur 'n aantal moedertaalsprekers, onder andere mnr Isaak Mulaudzi en mnr Fineas Mutsila.

In 1920, sestien jaar voor die verskyning van die volledige Bybel in Venda, is die eerste volledige Bybelboeke in Venda, "Die vier Evangelies en Handelinge" gepubliseer. Dié boeke is deur dr Paul Schwellnuss, bygestaan deur sy broer Theodor, vertaal. 'n Nuwe Testament is in 1923 gepubliseer en die Psalms in 1929.

Vandag is Vendasprekendes in Suid-Afrika en Zimbabwe bevoorreg om oor twee Bybelvertalings in hulle taal te beskik. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het in 1976 "Die Evangelie volgens Markus" in 'n nuwe vertaling uitgegee en die Nuwe Testament en Psalms in hierdie vertaling het in 1988 verskyn. Die vertalers, mnr AR Mbuwe, mnr FC Raulinga Venda Bybelen prof JA van Rooy, bygestaan deur 'n hersieningskomitee, het hierdie vertaling voltooi. Die volledige Bybel in die nuwe vertaling is in 1998 bekendgestel.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika versprei jaarliks gemiddeld tussen 15 000 en 20 000 Venda Bybels in die twee bestaande vertalings. Verlede jaar is 17 473 Venda Bybels in Suid-Afrika beskikbaar gestel.

Die belangrikheid van die Bybel in jou moedertaal word beklemtoon deur die woorde van 'n bejaarde Vendasprekende evangelis toe hy in 1936 vir die eerste keer 'n Bybel in sy eie taal in ontvangs geneem het: "Nou is dit nie langer nodig vir my siel om die harde kos van 'n vreemde taal te eet nie. Noudat ek die Bybel in my moedertaal kan lees, smaak dit vir my soos 'mukonde'." (mukonde is 'n tipe pap wat deur sommige Vendasprekendes as die grootste lekkerny beskou word.)

~ 13 Julie 2011~