Het jy geweet dat die Tswana Bybel was die eerste volledige Bybel om in 'n inheemse taal van Suider-Afrika te verskyn, en op twee na, die eerste in Afrika?
Deur die jare was die Bybelgenootskap van Suid-Afrika betrokke by die vertaling van die Bybel in al die tale van ons land – ongeveer 18 vertalings en 12 hersienings.
Om die Bybelse boodskap toeganklik en verstaanbaar te maak, was nog altyd 'n belangrike deel van Bybelgenootskapwerk. Die vertaling van die Bybel in die tale van die mense van Suid-Afrika is noodsaaklik om hierdie doel te bereik.
Alhoewel die Nuwe Testament in Suid-Ndebele beskikbaar is, is dit die enigste amptelike taal in Suid-Afrika wat nie 'n volledige Bybel het nie. Hierdie Bybel sal na verwagting teen die einde van 2012 verskyn.
Die bronteksgeoriënteerde vertaling in Afrikaans (Die Bybel in Afrikaans: 'n direkte vertaling) waarmee in 2006 begin is, is goed op dreef. Besoek die webtuiste van hierdie vertalingsprojek waar jy meer oor hierdie vertaling kan uitvind.
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het in 1986 'n Nuwe Testament en Psalms in moderne Zulu gepubliseer, maar daar is nie met die vertaling van die Ou Testament voortgegaan nie. Op versoek van die Zulu kerke het die Bybelgenootskap egter in Augustus 2009 met die vertaling van die Ou Testament begin. Die span het reeds heelwat van die Ou-Testamentiese boeke vertaal en daar is ook begin met die hersiening van die Nuwe-Testamentiese boeke uit die bestaande 1986-vertaling.
Daar is ook onlangs begin met die vertaling van 'n Engelse Bybel vir Dowes (EBD) vir Suid-Afrika en vir die res van Afrika waar Engels gebruik word. Dié vertaling, in doofgerigte Engels, is veral bedoel vir doofgeborenes en mense wat Gebaretaal gebruik. Aangesien mense gesproke taal deur veral nabootsing en verbale kommunikasie leer, het doofgeborenes spesifieke taal- en leesbehoeftes.






vertalingsprojekte