Sotho kinders kan lees en leer

news 2

Op 'n koue Vrystaatoggend is daar 'n hele paar honderd mense byeen in die "Multi Purpose Hall" in Phuthaditjhaba. Die gehoor bestaan uit onderwysers, ouers, verteenwoordigers van die Onderwysdepartement, leraars, gemeenskapleiers en Bybelgenootskappersoneel.

Die BBP's kan 'n mens egter nie miskyk nie. Daar is so 300 van hulle wat met laggende gesiggies en blink ogies sit en wag om die Bybelgenootskap se twee geletterdheidsboekies in hulle taal, Sesotho, in ontvangs te neem tydens die amptelike bekendstellingsgeleentheid. Hulle is graad R, 1 en 2-leerders uit verskillende skole in Phuthaditjhaba.

'n Aantal jare gelede, na deeglike navorsing, het die Bybelgenootskap besluit om Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal te ontwikkel. Die program is gebaseer op die Doen en Leer-metode wat deur wyle dr Rose Botha, 'n opvoedkundige, ontwikkel is, en wat goedgunstiglik aan die Bybelgenootskap beskikbaar gestel is. Die boekies betrek feitlik alle sintuie om basiese lees- en skryfvaardighede te ontwikkel. Die onderwyser se taak word vergemaklik deur die gebruik van kleurvolle illustrasies, ikone, flitskaarte en verskillende aktiwiteite soos lees, skryf, syfers, teken en sing.

Mev Zanele Mahlungu het die Vrystaatse Departement van Onderwys by die bekendstellingsgeleentheid verteenwoordig. Volgens haar kan dié boekies, My eerste Bybel Doen en Leer Boek (Bibele ya ka ya Tshebetso Le ho Ithuta Buka ya 1) en My 2de Bybel Doen en Leer Boek (Bibele ya ka ya ho Etsa Le ho Ithuta Buka ya 2) beslis 'n rol speel in die opvoeding van Sesothosprekende kinders. "Ons het die boekies ondersoek en baie bruikbaar gevind en ook dat dit kan bydra tot die holistiese ontwikkeling van leerders deurdat dit hulle sal help om fisies, emosioneel en geestelik te ontwikkel," het sy gesê. Die materiaal kan gebruik word om leerders te kweek wat verantwoordelike burgers van hierdie land sal wees," het sy bygevoeg.

Ds Dirk Gevers, Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap, is ewe opgewonde oor hierdie projek. "Nie net kan hierdie boekies 'n bydrae lewer tot die lees- en skryfvaardighede van ons kinders nie, maar hulle kan ook reeds op 'n baie vroeë ouderdom begin om die Bybel, met sy boodskap van hoop, te ontdek."

Die materiaal is reeds beskikbaar in Engels, Afrikaans, isiXhosa en nou ook in Sesotho.