IN DIE NUUS

 

Miljoene Bybels steeds benodig in Suid-Afrika

news 2

Meer as 23 miljoen Bybels word nog in Suid-Afrika benodig. Dit was die bevinding van onlangse navorsing wat deur die navorsingsmaatskappy, Ipsos, gedoen is. Byna 44% van Christenhuishoudings in die land het aangedui dat hulle nie meer Bybels benodig nie, terwyl 46,7% steeds tussen een en drie Bybels vir lede van die huishouding benodig.

Volgens hierdie navorsing behoort 68,8% van die Suid-Afrikaanse bevolking, ouer as 15 jaar, tot die Christelike geloof. Net meer as 'n kwart van die bevolking (25,4%) ouer as 15 jaar, behoort tot geen godsdienstige groep nie.

Die Bybel is vir die meeste Christene steeds baie relevant. Op 'n skaal van een tot 10, met 10 die belangrikste, het 64,9% die belangrikheid van die Bybel in hulle lewens tussen agt en 10 geplaas. Die meerderheid van Christene in Suid-Afrika (79,1%) besit ook reeds een of meer Bybels. Tog is daar 5,5% Christene in die land wat glad nie 'n Bybel besit nie.

Suid-Afrikaanse Christene (62,4%) verkies steeds om koerante, tydskrifte en boeke in gedrukte formaat te lees. 'n Verdere 21,7% het egter aangedui dat hulle nie net in gedrukte formaat lees nie, maar ook van digitale formate gebruik maak. 'n Verdere 3% het aangedui dat hulle uitsluitlik in digitale formaat lees.

"Ons Bybelgenootskap herdenk hierdie maand sy 196ste bestaansjaar in Suid-Afrika. Alhoewel ons die Here baie dankbaar is vir alles wat op die gebied van Bybelvertaling,-produksie en -verspreiding oor hierdie byna twee eeue bereik is, bly die uitdaging uiters groot om te verseker dat elkeen wat 'n Bybel verlang, een kan kry," sê ds Dirk Gevers, Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. "Die navorsing wat Ipsos vir ons gedoen het, bevestig in baie opsigte dat die Bybel in Suid-Afrika steeds belangrik is."

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is op 23 Augustus 1820 in Kaapstad as 'n hulpvereniging van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gestig. Vandag funksioneer die Genootskap as 'n nie-winsgewende maatskappy.