IN DIE NUUS

 

Afrikaanse Braillebybel 75 jaar oud

news 5

Die Afrikaanse Bybel in braille, herdenk vanjaar sy 75ste bestaansjaar. Slegs agt jaar na die publikasie van die eerste volledige Bybel in Afrikaans in 1933, verskyn die eerste volledige Braillebybel in Afrikaans op 21 Oktober 1941.

Afrikaans was slegs die vierde taal ter wêreld om 'n volledige Braillebybel te ontvang. Slegs Engels, Duits en Frans het op daardie stadium oor 'n volledige Braillebybel beskik. Vandag beskik 44 van die wêreld se sowat 6 887 tale oor 'n volledige Braillebybel.

Die destydse Skool vir Blindes (Pionierskool) op Worcester in die Wes-Kaap was verantwoordelik vir die reuse taak om die volledige Bybelteks in brailleskrif oor te skryf. Daar is reeds 'n jaar of wat na die publikasie van die eerste Afrikaanse Bybel, besluit om met 'n Bybel vir blindes te begin.

Dit was egter nie 'n maklike taak nie en daar is baie gesukkel met die bestaande drukpers asook die papier. Vir beide die Bybelgenootskap en die die Skool was dit egter so belangrik om te verseker dat die Bybel vir die leerders toeganklik is, dat 'n nuwe drukpers en die beste moontlike papier uit Europa bekom is.

Die eerste Afrikaanse Braillebybel het 75 boekdele beslaan wat opeengestapel sowat 2,9 m hoog gestaan het en 'n gesamentlike gewig van 63,5 kg gehad het. Vandag beslaan een Afrikaanse Braillebybel slegs 45 boekdele.

Die produksiekoste van een Bybel het in 1941 sowat R60,62 beloop en blindes kon die volledige Bybel teen R0,15 aankoop. Vandag beloop die produksiekoste ongeveer R3 200, maar die Bybelgenootskap, met die hulp van sy donateurs, maak dit moontlik vir blindes om 'n volledige Braillebybel gratis te bekom.