IN DIE NUUS

 

Geletterdheidsmateriaal in Sepedi nou beskikbaar

news 8

Op 27 Julie 2017 tydens 'n spesiale geleentheid by die Mmaphotla Primêre Skool in Mankweng, Polokwane, stel die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) twee geletterdheidsboekies in Sepedi bekend. Sepedi is die sesde Suid-Afrikaanse taal waarin hierdie materiaal verskyn. Die bekendstelling begin om 08:30.

Die geleentheid sal bygewoon word deur onder andere die Uitvoerende Burgemeester van Polokwane, Raadslid Thembi Nkadimeng, dr Polena Mangoale van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad en mnr MD Magagane, 'n senior bestuurder van die Departement van Onderwys in Limpopo. Verskeie grondslagfaseonderwysers, kerk- en gemeenskapleiers word ook by die byeenkoms verwag.

Die belangrikste gaste vir die dag is egter 300 graad R-, 1- en 2-leerders van verskeie primêre skole in die omgewing. Elkeen van hierdie kinders sal 'n stel Sepedi geletterdheidsboekies ontvang.

Hierdie basiese geletterdheidsprojek wat uit twee boekies bestaan, My eerste Bybel Doen en Leer Boek (Bibele ya ka ya Mošomo le go Ithutha Puku ya 1) en My 2de Bybel Doen en Leer Boek (Bibele ya ka ya go Dira le go Ithutha Puku ya 2) is veral op voorskoolse kinders en grondslagfaseleerders (graad R, 1 en 2) gerig.

Die BSA het twee gekwalifiseerde moedertaalsprekers genader om te help met die ontwikkeling, vertaling en redigering van die Sepedi boekies. Mnr Mpho Molapo het gehelp met die ontwikkeling en vertaling van die materiaal en me Nkeke Thosago met die redigering.

'n Paar jaar gelede het die Bybelgenootskap bewus geraak van duisende kinders in veral arm woonbuurte wat deur die dag in dagsentrums versorg word, maar geensins aan enige vorm van geletterdheid blootgestel word nie. Baie van hierdie kinders het ook nie die voorreg om die ontvangsfase (graad R) by te woon nie. Vergelyk 'n mens hulle omstandighede met die van kinders uit bevoorregte huise wat reeds voor hulle met skoolopleiding begin, gemiddeld aan ongeveer 400 uur van geletterdheidstimulasie blootgestel word, is dit duidelik dat baie gemarginaliseerde kinders hulle skoolopleiding met 'n agterstand begin.

Na deeglike navorsing het die Bybelgenootskap besluit om Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal te ontwikkel. Die program is gebaseer op die Doen en Leer-metode wat deur wyle dr Rose Botha, 'n opvoedkundige, ontwikkel is, en wat goedgunstiglik aan die Bybelgenootskap beskikbaar gestel is. Die boekies betrek feitlik alle sintuie om basiese lees- en skryfvaardighede te ontwikkel. Die onderwyser se taak word vergemaklik deur die gebruik van kleurvolle illustrasies, ikone, flitskaarte en verskillende aktiwiteite soos lees, skryf, syfers, teken en sing. 'n Handleiding vir die gebruik van die materiaal is ook ingesluit.

Met verwysing na geletterdheid het ds Dirk Gevers, die Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap, pres Bill Clinton, voormalige president van die VSA, aangehaal wat op 'n keer gesê het: "Geletterdheid is nie 'n luukse nie, dit is 'n reg en 'n verantwoordelikheid." "Die taak van die Bybelgenootskap is gemeenskapsgerig en met hierdie projek wil ons 'n verskil in ons gemeenskappe maak deur te help om hierdie verantwoordelikheid teenoor ons kinders na te kom. Nie net kan hierdie boekies 'n bydrae lewer tot die lees- en skryfvaardighede van ons kinders nie, maar hulle kan ook reeds op 'n baie vroeë ouderdom begin om die Bybel, met sy boodskap wat lewens kan verander en waardes kan vestig, te ontdek," sê ds Gevers. Die materiaal is reeds beskikbaar in Engels, Afrikaans, isiXhosa, Sesotho, isiZulu en nou ook in Sepedi.

Die materiaal sal uiteindelik in al elf die amptelike tale beskikbaar wees.

Danksy Bybelgenootskapdonateurs is duisende van hierdie boekies reeds gratis beskikbaar gestel aan veral kinders wat in arm dele van ons land woon. Die Bybelgenootskap maak gebruik van implementeringsvennote, byvoorbeeld kerke, skole, organisasies en individue. Enige persoon wat kan lees kan, met behulp van flitskaarte en 'n handleiding wat saam met die boekies voorsien word, iemand anders help om die basiese lees- en skryfvaardighede te bemeester. Indien meer inligting benodig word, kontak asseblief u naaste Bybelhuis of skakel 021 910 8705 of stuur 'n e-pos aan: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..