IN DIE NUUS

 

Speke gons vir Bybels

news 8

Kaapstad het die afgelope naweek weer duisende fietsryers verwelkom vir die jaarlikse Kaapstad Fietstoer. Die gebeurtenis is ook ‘n groot een op die Bybelgenootskap se kalender.


Theresia Lessing (29) van Limpopo was vanjaar deel van ‘n groep fietsryers wat tydens die Kaapstad Fietstoer vir Bybels getrap het.

Theresia het twee jaar gelede van die Bybelgenootskap se Trap vir Bybels-projek te hore gekom toe pastoor Mike Roodt van die Bybelgenootskap ‘n bergfietswedren ten bate van Bybelverspreiding in haar tuisdorp, Potgietersrus, aangebied het.

“Ons het toe al vir ons ons Trap vir Bybels-fietsrytruie bestel,” vertel Theresia.

Omdat sy vanjaar bietjie lank gewag het om vir die fietstoer in te skryf moes sy noodgedwonge deur ‘n welsynsorganisasie inskryf. “Die Bybelgenootskap was my eerste keuse,” sê Theresia wat verlede jaar haar eerste fietstoer voltooi het.

“Dit was lekker om deel te wees van ‘n groep mense wat almal vir Bybels trap. Die Bybel is die belangrikste riglyn in ‘n mens se lewe en ek is bly dat ek deel kan hê in die verspreiding daarvan. Op so ‘n klein manier is ons Jesus se hande wat in die gemeenskap werk,” verduidelik sy.

Die Bybelgenootskap gee al vir die afgelope vyf jaar fietsryers die geleentheid om tydens hierdie gewilde fietswedren vir Bybels te trap. Daar kan egter op ‘n verskeidenheid maniere vir Bybels getrap word – tydens enige wedren of selfs met ‘n langafstand rit. Besoek ons Aktief vir Bybels blad vir meer inligting of kontak George Thompson (011 970 4010 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.) vir verdere navrae.

e-Saaier nuusbrief