Bybelgenootskap salueer gewapende magte

news 8

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het 'n jarelange verhouding met die gewapende magte. Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontvang al sedert 1940 Nuwe Testamente en Bybels van die Bybelgenootskap.

'n Voorbeeld van een so 'n Testament, is een met 'n houtomslag wat in 1943 gedruk is. Op die binneblad is daar 'n boodskap van die koning van Engeland, George VI, asook 'n handgeskrewe boodskap van die destydse Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, generaal Jan Smuts.

Tydens die Bybelgenootskap se onlangse Algemene Jaarvergadering is Sertifikate van Waardering aan die Kapelaansdiens van beide die SANW, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig.

"Ons is verwerklik baie trots om met die Bybelgenootskap geassosieer te wees," het kolonel (pastoor) Elsabe Francis (waarnemende Stafhoof in die Kantoor van die Kapelaan-generaal) wat die SANW verteenwoordiger het, gesê.

"Ek kan bevestig dat die gekamoefleerde Bybels steeds baie gewild is onder ons soldate en hulle familielede. Ons probeer die Bybels in die Weermag hou deur te verkondig dat dit 'n Bybel spesiaal vir die weermag is, maar ons sukkel. Die mense kom en wil bokse van die gekamoefleerde Bybels koop omdat dit so 'n groot impak en betekenis daar buite het," het kolonel Francis verduidelik.

Volgens haar is die Bybel die eerste versoek wat soldate rig wanneer hulle ontplooi word.

"Die Kapelaansdiens en die Bybel speel 'n prominente rol in ons voorbereiding om ons land te beskerm. Ons soldate benodig daardie Bybel. Wanneer hulle ontplooi moet hulle dit hê."

Brigadier Sithembiso Shobede-Nkosi, Afdelingshoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Geestelike Dienste, sê hoewel hulle nog nie so 'n lang pad met die Bybelgenootskap gestap het nie, sien hulle daarna uit om hierdie verhouding te versterk.

"As predikers het ons die voorreg dat dit ons werk is om die Goeie Nuus vir mense te vertel. Maar selfs al kan ek nie self met 'n persoon praat nie, kan ek my net voorstel watter wonderlike werk God kan doen as ons die Woord van God in daardie persoon se hand kan sit," het brigadier Shobede-Nkosi gesê.

Sy het bygevoeg dat die kapelane in die Polisie baie opgewonde is oor die ondersteuning wat die Bybelgenootskap hulle kan bied wat betref spesiale Bybels en hul dagstukboekie.