BYBEL-PER-MAAND KLUB

 

 

Die Bybel bring hoop agter tralies

  

DSC 1628

 

Zenzo Matokazi is 'n gevangene by Leeuwkop Maksimum Gevangenis en het die Here leer ken het deur die bedieningswerk wat onder die gevangenes gedoen word.

Zenzo vertel: “Sonder die Woord van God sal ek verlore wees. Dit herinner my gedurig aan wat ek moet doen en dit bemoedig en vertroos my. Voorheen was my lewe leeg en ek het nie geweet wat my doel in die wêreld is nie, maar nou weet ek. Ek het in niks geglo nie, net in myself. Nadat ek ’n kind van God geword het, was ek gelukkig danksy die goeie nuus van Christus. Ek ken die waarheid en ek probeer om op watter wyse ookal volgens die Woord van God te leef sodat ek nie struikel nie.”

Reeds vir baie jare help die Bybelgenootskap deur sy Bybels vir gevangenes-projek om Bybels aan mense soos Zenzo te voorsien. Die Direktoraat Geestelike Sorg van Korrektiewe Dienste en ander organisasies wat fokus op gevangenisbediening volg 'n rehabilitasieprogram wat op die spesifieke behoeftes van die gevangene gerig is en die Bybel is 'n integrale deel van die program.

'n Gevangene ontvang 'n Bybel onder andere vir gebruik gedurende individuele pastorale sessies, vir kerkdienste of groepsessies. Dit Bybel word die eiendom van die gevangene.

Die Bybels wat jaarliks aan die gevangenes beskikbaar gestel word, is net 'n druppel in die emmer, maar tog noodsaaklik, want die boodskap van die Bybel kan help om lewens te verander. Die Bybel kan 'n bydrae lewer in die rehabilitasieproses en gevangenes aanmoedig om na die uitdien van hulle vonnisse, 'n misdaadvrye bestaan te voer.

 

Bid vir:
  • elke gevangene wat danksy die bydraes van ons Bybel-per-Maand Klub 'n eie Bybel sal ontvang
  • genoeg fondse sodat Bybels aan gevangenes beskikbaar gestel kan word
  • al die geestelike werkers wat help met die rehabilitasie van gevangenes.