• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Gee jou beste vir God

blog 1 Painting

Ons belangstellings en dit waaroor ons passievol is, is dikwels die rede hoekom ons ons verhouding met God afskeep. Ons staar onsself so vas in ons eie doelwitte en roeping dat ons vergeet en, ja, self nie eers werklik omgee dat dit alles 'n gawe is nie. 'n Gawe van 'n God wat, nog voor ons gebore was, daardie einste talente en ideale in ons harte en hande geplaas het.

"U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering." Psalm 139:13-14

John Morgenrood (77) is iemand wat ondanks 'n gebrek aan finansies nie net in die nastreef van sy passie volhard het nie, maar ook gekies het om God met sy talente te eer.

Van jongs af wou John al verf. Só brandend was die begeerte om te skilder dat hy allerlei dinge gefatsoeneer het om die kwasse en seildoek te vervang wat hy op daardie stadium nie kon bekostig nie.

"In daardie dae het die nuwe manspakke in sulke groot, plat, vierkantige bokse gekom. Ek het daardie bokse opgeknip en dit as my seildoek gebruik. Ek het gewone olieverf gebruik wat ek by my oom gekry het, en dit in klein glasbotteltjies in 'n skoenboks onder my bed gebêre. Daar was nie geld vir kwassies nie omdat ons maar arm was. Ek het rietjies geneem en met 'n lemmetjie die een kant baie fyn gekerf. Ek het dan 'n toutjie daarom gebind en dit was my kwassie."

In die begin het John slegs 'n paar "prente" 'n jaar geverf maar soos hy meer daarop begin fokus het, het sy liefde vir skilder gegroei.

Vandag skilder hy steeds, in sy sitkamer, omring deur sowat 50 van sy skilderye. Die onderwerpe sluit alles van intieme portrette tot aangrypende landskappe in. Dit is juis 'n landskap van Tafelberg wat hy onlangs aan die Bybelgenootskap geskenk het om te help met die geldinsameling vir Bybels.

"Ek glo jy moet jou beste vir die Here gee. Ek het daardie spesifieke skildery al met baie mense bespreek en almal het altyd goeie opmerkings daaroor te sê gehad." John was geïnspireer om die skildery te skenk toe pastoor Theuns Louw van die Bybelgenootskap sy kerk besoek het.

"Hy het ons vertel van Bybelverspreiding en hoe die mense in China tot bekering kom juis oor die Bybels wat daar versprei word. Die hele konsep het my aangegryp en ek het gevoel ek moet ook my deel doen. Dit is toe dat ek besluit het om die skildery te skenk."

Dit is egter nie John se eerste kennismaking met die Bybelgenootskap nie. Sowat 34 jaar gelede het hy ook 'n skildery ten bate van die Bybelsaak geskenk.

"Ek het in Die Burger ('n plaaslike koerant) gelees oor die veldtog om geld vir Bybels in te samel. Ek het nie geld gehad om te gee nie, maar ek het wel dié skildery gehad wat ek reeds voltooi het. Dit was 'n begeerte in my hart wat my die donasie laat maak het. Ek het gevoel, God het my hierdie talent gegee, en as 'n teken van dankbaarheid wou ek iets teruggee." John sou ook binnekort vir sy optrede beloon word.

"Hulle het foto's van die skildery kom neem en my gevra wat hulle daarby kon skryf vir die koerant. Ek het gesê, as die skildery genoeg geld inbring om net een Bybel te koop en daardie Bybel bring iemand tot bekering, sal dit voldoende vergoeding wees.

"Ek dink die Here het 'n sin vir humor, want ék is toe die een wat tot bekering kom," vertel hy met 'n laggie.

"Ek glo in besigheid en om 'n 'bargain' te maak. Ek het die skildery vir die Here se koninkryk gegee, en toe kom Hy en sê, nou gaan ons 'n 'bargain' maak, hier is die ewige lewe en in daardie tyd toe kom ek tot bekering."

Wanneer John vandag terugdink aan daardie tyd, glimlag hy steeds. Die Bybel is ook nog net so kosbaar vir hom as toe.

"Die Bybel is soos 'n instruksieboek. Wanneer jy 'n wasmasjien koop lees jy die instruksieboek om uit te vind hoe die masjien werk. Dit is dieselfde met die Bybel. Dit vertel vir jou hoe jy moet lewe en wat jy moet doen. Wat ook wonderlik is van die Bybel is al die beloftes aan ons wat dit bevat." John glo die Here beloon sy kinders.

"Gee die beste wat jy het en Hy sal jou beloon. Of dit nou is om mooier te kan skilder of wat ookal, jy sal beloon word as jy jou beste vir Hom gee."

"Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan." Kolossense 3:23-24

 

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou