• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Op die lang pad saam met God

blog 2

Ons almal is soekend.

Ons soek liefde, antwoorde, betekenis, 'n doel vir ons lewe. As ons die dag die Here Jesus ontmoet, vervul Hy al dié behoeftes. As ons daardie plek vind waar ons inpas, daar waar die Here ons wil gebruik, dan maak dit net sin. Dit voel reg.

Daarom is dit so frustrerend en teleurstellend as ons planne nie uitwerk nie. Maar selfs in hierdie mislukkings, soos ons maar te dikwels daarna kyk, openbaar die Here sy ongelooflike karakter en wysheid aan ons.

Dit is maar een van die lesse wat Dries Fourie (staande, derde van links) geleer het, toe hy die Here gevra het om hom te wys waar sy roeping lê.

"Die Here gee vir ons almal 'n opdrag wat ons in Mattheus 28:18-19 vind. Ons moet dissipels gaan maak. Maar ek is nie 'n pastoor wat op 'n kansel gaan klim en 'n preek lewer nie," vertel Dries, wat 'n bestuurder by 'n sekuriteitsfirma in Wellington in die Wes-Kaap is.

"Ek het die Here gevra dat Hy my moet wys waar ek betrokke moet raak. Toe sê Hy vir my, 'Jy kan fietsry. Hoekom gebruik jy nie daardie talent wat Ek vir jou gegee het tot eer van my Naam nie?'"

Dit is toe dat die idee vir 'n fietstoer ter ondersteuning van Bybelverspreiding by Dries, wat al van jongs af fietsry, opkom. Maar dinge het nie so vlot verloop nie en die toerreëlings is telkens in die wiele gery.

"Daar het 'n tyd gekom wat ek met die Here gestoei het. Ek het vir hom gesê, 'Here U het vir my die gedagte gegee, U het dit op my hart gelê, maar elke keer as ek die ding reël, net voor ons moet trap, dan val alles plat'."

Dit sou vir hom 'n les wees in geduld, toewyding en geloof. Dries het besef dat die Here se tyd nie noodwendig sy tyd is nie.

In 2005 val alles in plek en die eerste Trap vir Bybels-toer van Wellington na Hartenbos kon voortgaan.

In hierdie tyd was daar 'n man, Alfred Yardley, wat ook 'n lidmaat by Dries se kerk was.

"Alfred was gestrem, en sy ma het hom by al die omliggende dorpe gaan aflaai en dan het hy elke dag van besigheid na besigheid gestap en geld vir Bybels ingesamel."

In 2006 is Alfred in 'n motorongeluk oorlede.

"Toe Alfred oorlede is toe sien ons hoe die Here die Trap vir Bybels-toer gebruik om daardie leemte te vul wat hy gelaat het. Dit was ons taak om verder te gaan," vertel Dries.

Sedertdien het die toer net van krag tot krag gegaan, met die 12de toer wat op 15 September vanjaar ten einde geloop het.

Tydens die vierdag-toer ry die groep fietsryers in skofte om die 490 km van Wellington na Hartenbos af te lê. Daar word by Montagu, Ladismith en Oudtshoorn oornag en langs die pad word daar Bybels uitgedeel en word die Bybelverspreidingswerk van die Bybelgenootskap met belangstellendes gedeel.

Getuienisse van wat op die toer plaasvind, is daar baie, Dries vertel van een wat hom altyd sal bybly.

"'n Xhosa-sprekende man het blykbaar 'n skrikbewind in die tronk op Ladismith gevoer. As hy by die gang afgestap kom, het die ander gevangenes letterlik weggehardloop en teen die verste muur in hul sel gaan staan, so bang was hulle vir hom. Dié tronk het nie sy eie kapelaan nie, maar daar is 'n vrywillger wat kapelaanwerk doen. Toe dié man vir hierdie gevangene vertel dat ons oppad is van Wellington op fietse en dat ons vir hom 'n Bybel in sy eie taal bring, het die Here sy lewe binne 24 uur omgekeer. Vandag gebruik die Here daardie einste man om die Evangelie in die gevangenis te versprei."

Dit is stories soos dié, sê Dries, wat hom laat besef dat alles die moeite werd is.

"As jy jou kant bring, die Here doen meer as sy deel. Hy loop daardie ekstra myl vir jou. Ons saai maar net die saad, God is die een wat laat groei en eendag sal ons wel ons beloning ontvang en ons beloning gaan groot wees."

In sy lewe is die Bybel onmisbaar.

"Die Bybel is soos 'n padkaart vir my. Dit wys my die weg aan wat ek moet loop en daarsonder is ek verlore. Veral op die toer, omdat ons baie met die publiek in aanraking kom en ook baie Bybels uitgee, besef jy dit is 'n deel van die koninkryk wat jy saai in daardie persoon se lewe. Die wete dat daardie Bybel gebruik kan word soos ek dit gebruik, as my padkaart, is genoeg.

"Ek weet as ek daardie verwysings wat die Bybel my gee, gebruik, kan ek nie verlore raak nie, ek sal nie verdwaal nie. Die Here sal my altyd op die regte pad hou."

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou