• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Die Bybel: 'n boek van tweede kanse

blog 5

Ons biblioteek hier by die Bybelhuis in Kaapstad is voorwaar 'n skatkis. Hier vind mens Bybels wat elkeen 'n unieke storie vertel. Hierdie Bybels, Gods Woord, bevat 'n asemrowende onthulling van waarheid, wonderwerke, profetiese woorde en beloftes asook hoop, liefde en vrede. Hierdie Bybels vertel egter ook die persoonlike stories van hul eienaars.

'n Bybel wat dadelik jou oog vang, is dié een met 'n koeëlgat en bloedbesmeerde bladsye. Dit vertel 'n storie oor oorlog, vergifnis en tweede kanse.

Dit vind plaas teen die agtergrond van die konflik in die 1980's in hedendaagse Namibië.

Josias Niholonge, 'n Kwanyanasprekende onderwyser en Christen, is een dag deur 'n groep gewapende mans voorgekeer. Hulle het sy geloof as daad van verraad beskou.

Toe Josias besef dat daar geen uitkomkans is nie, het hy sy aanvallers gesoebat vir een laaste spreekbeurt. Hy het sy Bybel oopgemaak en uit Romeine 8:31-39 begin voorlees. "God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? ... Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? ... Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here."

Hy was nog besig om te lees toe die skote klap. Hy het net daar gesterf. Sy bloed het die bladsye van die Bybel bevlek waaruit hy nog oomblikke tevore gelees het.

Nadat hulle die paar items van waarde van Josias se liggaam gesteel het, het die aanvallers op die vlug geslaan. Een het egter teruggekom. Hy het die Bybel gegryp.

Hierdie man het as kind klasse by 'n sendingskool bygewoon en wou nog altyd sy eie Bybel gehad het. Hy het die Bybel weggesteek. Die Bybel is waarlik lewend en aktief. Soos die soldaat dit gelees het, het sy gewete hom begin pla. Hy het selfs een keer die Bybel in die vuur gegooi toe die waarheid vir hom te veel begin raak het. Hy was egter in twee geskeur en het vinnig weer die Bybel uit die vlamme gekrap.

Een aand het hy besluit om te dros en het oor die grens gevlug. Hy het by 'n sendingkerk om hulp gaan aanklop. Daar het hy berading ontvang en vergifnis gevra aan die voet van die kruis. Die sendeling het vir hom 'n nuwe Bybel gegee in ruil vir sy beskadigde een. Hierdie Bybel is later aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, die oorspronklike uitgewer van die Kwanyana Bybel, geskenk.

Op die eerste bladsye van sy Bybel het Josias die datums van sy vrou se verjaardag, hul troudag asook die geboortedatums van al sy kinders aangeteken. Hierdie boek was vir hom beslis baie waardevol. Hy het, sonder om te aarsel, sy lewe vir die waarheid van die Woord opgeoffer. Sy Bybel is 'n bewys van sy oorwinning in Christus en God se reddingskrag.

Niemand sal ooit kan sê hoeveel lewens gespaar is omdat daardie een siel in die middel van 'n oorlog, besluit het om sy wapen neer te lê en eerder God se wapenrusting aan te trek nie. Dit is 'n boodskap van opoffering en hoop. God werk wanneer die situasie vir ons baie donker lyk en soms word ons geroep om alles vir Hom op te offer - ja, selfs ons lewe. Hierdie storie 'n bewys dat God alles ten goede laat meewerk en dat hy omgee vir almal en direk met elkeen se hart praat deur sy wonderlike Woord, die Bybel.

"Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." Romeine 8:28

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou