• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Christus Jesus in ons Kersfees

blog 5

Christene regoor die wêreld sien almal opgewonde daarna uit om die geboorte van ons Verlosser, Jesus Christus, te vier. In Suid-Afrika gaan dié seisoen gepaard met 'n somervakansie en goeie tye in die geselskap van familie en vriende.

Baie van ons sal in druk verkeer sit, uitkook in die versengende hitte, en lang rye en die gehuil van 'n hardkoppige kleuter of twee in die winkels moet trotseer. Dit alles terwyl Kersmusiek wat ons maar al te goed ken, oor die luidsprekers dreun. Baie van ons sal kuiermense kry en dan kan die huis baie gou, baie vol raak. En wanneer die aanvanklike opwinding verby is, wat dan? Soms voel dit asof hierdie tyd alles behalwe vreugdevol is.

Ons ervaar nie vrede en kalmte nie. Want daar moet rondgehardloop word vir daardie regte uitrusting, die sappigste vleissnit of die perfekte geskenk vir daardie spesiale iemand. Hoe belangrik is al hierdie dinge werklik? As jy 'n Marta-tipe (Lukas 10:38-42) persoonlikheid het dan is dit heel moontlik wel vir jou baie belangrik. Maar dis dalk tyd vir 'n blaaskans, tyd om te kyk waar is Jesus in al die gerondskarrel. Onthou, Jesus het Maria geprys omdat sy stil by die Meester se voete gesit en aandagtig geluister het na alles wat hy gesê het. Hy het haar optrede belangrik genoeg geag om dit uit te lig. Moet ons dan nie eerder dieselfde stemming inneem wanneer ons sy geboorte hierdie Kerstyd vier nie?

Ons het 'n paar Skrifgedeeltes uitgesoek wat in die feestyd vir jou van betekenis kan wees.

God se liefde
Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. 1 Johannes 4:10

Rus en vrede
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Psalm 46:11

Tyd saam met God
Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. Markus 1:35

Blydskap
Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap. 1 Petrus 1:8-9

Naasteliefde
Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 1 Petrus 4:8

Vergifnis
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Kolossense 3:13

Angs
Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. 1 Petrus 5:7

Liefde verdryf vrees
Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 1 Johannes 4:18

Fokus op Christus
... die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Hebreërs 12:2

Jesus is ons skat
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Matteus 6:21

Genesing en hoop
Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. Psalm 147:3

Viering van geluk
Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. 1 Korinthiërs 2:9

As ons oor hierdie verse nadink, kan dit ons help om die strikke te vermy wat vir ons gestel word en wat hierdie spesiale tyd van alle feestelikheid kan ontneem. Wanneer ons vakansieplanne nie uitwerk soos ons beplan het nie, is ons dikwels teleurgesteld.

As ons egter ons oë op Jesus gefokus hou en ons ons verhouding met Hom eerste stel, dan sal die verbrande lamsboud, of om vir die soveelste keer 'n paar sokkies of 'n koekie laventelseep as Kersgeskenk te ontvang, ons nie van ons Kersfeesvreugde beroof nie. Dan kan ons ook, soos die Psalmdigter, sê: "Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af."

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou