• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Word Riders op die Filippynse manier

blog 7

'n Groep motorfietsryers, die Word Riders, kom een keer elke jaar saam onder die vaandel van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, vir 'n weeklange toer waartydens Bybels aan graad 7-leerders by skole in van die armste dele van ons land oorhandig word. Die Filippynse Bybelgenootskap is deur die projek aangegryp en het nou ook hul eie Word Riders-groep wat soortgelyke uitreikwerk doen. Stigter en organiseerder van die Suid-Afrikaanse Word Riders, Francois Sieberhagen, en Word Riders-veterane, Tony de Melim en Manfred Haarde, het die Filippynse Word Riders in November tydens 'n toer na die noorde van dié land vergesel. Francois deel hul ervaring ...

Wanneer Manila deur die wolke vanuit die vliegtuigvenster sigbaar word besef ek met ʼn skok dat hierdie ʼn baie groot stad is. Nadat ons uit die lughawegebou uitstap neem dit ons nog ʼn verdere twee en ʼn half uur om by die Bybelhuis in United Nations Avenue uit te kom. Dit is Saterdag en die verkeer is iets ysliks, en dit het ek, Manfred Haarde en Tony de Melim nooit verwag nie.

Die weer, met sy hitte en geweldige hoë humiditeit oortref enigiets waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is. Ons ken immers hitte, maar die kombinasie laat ons water drink vir die vale. Ons sukkel om ons dors te les.

Ons kry darem kans om die stad en omgewing te verken voordat ons Woensdagoggend 16 November net na 02:00 in die oggend vertrek na die bymekaarkomplek. Ons ry vandag na Vigan City, net so 400 km noord van Manila. Om 04:00 begin ons ry vanaf  ʼn Petron-vulstasie in Quezon City, ’n stad wat aan Manila grens. Die twee stede vloei ineen, soos Pretoria en Johannesburg.

Ons word deur twee hoofwegpatrollie-polisiebeamptes uit die stad met sy swaar verkeer begelei. Trouens, hulle bly die hele tyd by ons. Dit raak moeilik om te ry want nie net begin dit reën nie, dit is steeds baie donker. Ons ken nie die motorfietse nie, maar die BMW’s gedra hulle goed.

Ons vleg deur die plattelandse verkeer. Ons oortree letterlik elke padverkeersreël in die boek, maar die polisie begelei ons, en ons moet net ry. Die paaie is goed, maar baie nou. Die motorfietse met hulle syspanne (tricycles) en kleiner motorfietse van die plaaslike inwoners maak dit moeilik om lekker gemaklik te ry. Jy moet konsentreer dat dit klap. En dan ry ons boonop aan die regterkant van die pad.

Vigan City adem die oorblyfsels van die Spaanse kolonialisasie. Die Filippyne was vir baie lank ʼn Spaanse kolonie. Ons besoek Donderdag een van die plaaslike skole, Ilocos Sur National High School. Hier is net so oor die 6 000 leerders met so bietjie meer as 200 onderwysers. Dit is dus geen wonder dat ons in twee sessies meer as 1500 Bybels in die hande van graad 8-leerlinge plaas nie.

Die groep bring meer as twee-en-ʼn-halfuur saam met die kinders deur. Elkeen kry ʼn eie Engelse Bybel. Vir die Katolieke kinders is daar een met die Deutrokanonieke boeke ingebind en vir die Protestantse kinders is daar ʼn standaard Bybel, beide in sagteband.

Die kinders geniet die interaksie. Die Word Riders en vrywilligers kuier met oorgawe saam. Hulle word gevra om sekere gedeeltes in hulle Bybels op te soek en dan vrae te beantwoord. Die boekie, Help, hoe moet ek my Bybel lees? word ook in groot detail met die kinders bespreek.

Dit is warm en drukkend in die basketbalsaal, maar niemand gee om nie. Die kinders babbel, want baie van hulle ontvang vandag hul eerste Bybel. Die kinders is dankbaar en ons drie Suid-Afrikaners geniet dit om te sien hoe die saadjie van die Word Riders wortel geskiet het en reeds vrug dra in die Filippyne.

Die volgende dag, Vrydagoggend vroeg, voor 05:00 die oggend, begin ons ry na Laoag, so 100 km noord van Vigan City. Dis nie ver nie, maar dit neem lank selfs so vroeg in die oggend. Ontbyt by MacDonalds werk vir ons, want ons het nou al genoeg rys geëet die afgelope paar dae.

By Ilocos Norte National High School in Laoag wag ʼn jillende en opgewonde groep kinders vir ons. Hier word oor die 800 Bybels geplaas. Dieselfde roetine word gevolg en my twee mede Word Riders, Manfred en Tony is baie gewild by die kinders – hulle moet net handtekeninge uitdeel.
 
Nadat ons klaar die Bybels uitgedeel het, vertrek ons na Paoya en daar besoek ons die Katolieke kerk. Die hoeksteen is in 1704 gelê en die kerk is eers in 1896 ingewy. Terwyl ons daar sit, begin ʼn vrou oefen aan Pie Jesu. Dit raak ons diep en ons drie sit in verwondering en beleef  ʼn diepe dankbaarheid vir genade dat ons die voorreg het om deel te wees van iets so dinamies en lewensveranderend soos die Word Riders. Ons is opgewonde, want hierdie projek kon uitbrei na buite ons landsgrense en meer kinders kan voordeel trek uit hierdie inisiatief van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
 
Die volgende dag vertrek ons terug na Manila. Ons het geweet die pad is lank en die voertuie op die paaie is baie. Maar ’n mens kan nie help om te wonder nie, hoe lank kan dit dan nou neem om 500 km met ’n motorfiets af te lê? Twaalf volle ure! Teen die tyd wat ons van ons motorfietse kon afklim, was ons nie net bly die lang sit is verby nie, ons was baie dankbaar dat almal in die groep veilig gery het.
 
Die Word Riders klim weer in Maart op hul motorfietse om Bybels hier in Suid-Afrika te gaan uitdeel. Maar ons hoop dat ’n paar Fillippynse Word Riders vanjaar saam met ons groep kan ry en motorfietsspore agterlaat, daar waar dit nodig is.

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou