• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Oorgehaal om Comrades kaf te draf vir Bybels

blog 8

Tydens verlede jaar se Comrades Marathon het twee vriende van Gauteng R14 000 ingesamel deur vir Bybels te hardloop.

Douw Prinsloo en Cornelia Hutchinson was oorbluf deur die liefde en ondersteuning wat hulle van vriende, familie en selfs onbekendes gekry het in hul poging om die Bybelsaak te bevorder.

Vanjaar gaan Douw weer dié ikoniese en uitmergelende 87 km wedloop aandurf terwyl hy in die proses ook weer vir Bybels gaan hardloop. Dié keer is daar egter 'n bykomende uitdaging.

"Ek het ingestem om in 2017 saam met 'n vriend te hardloop om hom te help om sy Comrades-droom te verwesenlik. Christo Lourens sal reg langs my wees op die groot dag. Ons unieke uitdaging is die feit dat Christo gehoorgestremd is en 'n kogleêre inplanting het. Wanneer hy sonder die sendereenheid hardloop, uit vrees dat dit dalk mag uitval of beskadig, is hy letterlik doof en heeltemal van die wêreld afgesluit," verduidelik Douw.

Oor die algemeen is daar maar min gestremde atlete wat aan uithousport deelneem.

Die groot uitdaging vir gehoorgestremde padatlete is altyd veiligheid. Dowe atlete moet voortdurend in voeling wees met hul omgewing. Dit sluit voertuie in maar ook voetgangers en ander drawwers.

"Alles draai om hul veiligheid. Dit is juis om dié rede dat ek my daartoe verbind het om die heelpad by Christo te wees – hopelik tot by die eindstreep."

Hoewel Christo aanvanklik huiwerig was, het hy gou besef dat hy met sy deelname aan die vermoeiende wedloop 'n voorbeeld vir ander gestremde atelete kan wees.

"Christo en ek het besluit dat ons hierdie geleentheid gaan gebruik om ander atlete te inspireer en te motiveer, sodat hy 'n ambassadeur kan wees vir hierdie minderheidsgroep. Christo wou eers nie aan die idee byt nie, maar hy besef nou dat omdat hy die uitdagings oorkom het, hy nou die verantwoordelikheid het om te help om die stereotipering van dowe atlete in uithousport af te breek," voeg Douw by.

Christo gaan ook vir Bybels hardloop.

"Ek het gesien wat Douw en Cornelia verlede jaar vir Bybels gedoen het. Omdat Douw my help om my droom om die Comrades te hardloop 'n werklikheid maak, het ek besluit ek wil ook help om iemand anders se droom vir 'n Bybel te laat waar word. Die Bybelgenootskap maak dit vir ons moontlik om, deur ons 'n sport, 'n verskil te maak. Dit is my kans om 'n verskil te maak," vertel Christo.

Douw is net so opgewonde om te sien wat vanjaar se Comrades, wat op 4 Junie in Durban wegspring, gaan oplewer.

"Verlede jaar was vir my 'n spesiale Comrades Marathon, met ek en Cornelia wat vir Bybels gehardloop het. Vanjaar sal dit 'n dubbele seëning wees, om vir Bybels te hardloop én om 'n vriend te help om sy Comrades droom te verwesenlik."

Die Bybelgenootskap se missie is om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar. Daarom word daar ook in die behoeftes van dowe lesers voorsien.

Tans word daar gewerk aan die Engelse Bybel vir die Dowes terwyl 'n Afrikaanse weergawe, Die Bybel vir almal, reeds beskikbaar is.

Hierdie Bybels is in vereenvoudige taal geskryf met baie beskrywende voetnotas aangesien dowe lesers veral dié wat sedert geboorte doof is, 'n beperkte woordeskat het.

Om meer te lees oor Douw en Christo se tog na Comrades 2017, besoek Douw se blog by https://myownjourneysa.wordpress.com

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou