• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

'n Liefdesverhouding sonder einde

blog 9

Februarie is 'n tyd wanneer alles in rooi getooi is – rooi rose, rooi bokse sjokolade, rooi klere. En alles is met rooi harte versier en met rooi linte toegedraai. Laat die liefde seëvier. Liefde. Dit was al die tema van soveel boeke, rolprente en liedjies. Mans en vrouens smag daarna, ander het al daarvoor gesterf en selfs vir liefde moord gepleeg. Ondanks al die singery, dansery en worsteling, ontwyk die liefde steeds talle mense.

Maar wat is liefde?

In die Bybel is daar 'n menigte romantiese liefdesverhale, van Adam en Eva, Abraham en Sara Rut en Boas tot Dawid en Abigajil.

Romanse word gedefinieer as 'n idilliese of vurige liefdesverhouding tussen twee mense. In vandag se samelewing blyk daar 'n alewige soektog te wees om die persoon te vind saam met wie ons dié gevoel kan ervaar. Romanse is egter van korte duur; die gepaardgaande emosies verflou gou en dan word die verhoudings laat vaar, dikwels met heelwat hartseer gevolge. En dan word die soektog weer voortgesit.

God verwys egter na Homself as liefde.

"En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. (1 Johannes 4:16)

As God die bron van liefde is dan maak dit sin om eerder na die Vader as die wêreld te gaan wanneer ons na ware liefde op soek is.

God se liefde vir ons is soveel meer as net daardie romantiese en fisiese aangetrokkenheid tussen twee mense.

Ons almagtige God stort sy ware liefde op ons, sy kinders uit. Hy beloof ook dat niks ons van hierdie liefde kan skei nie. (Romeine 8:38-39)

Hy maan ons dan ook, "Laat alles by julle in liefde geskied." (1 Korinthiërs 16:14)

Met God kan ons 'n liefdesverhouding sonder einde hê. Mens ervaar 'n anderse en egte geluksaligheid wanneer jy God in gehoorsaamheid liefhet. Om God te ken en liefde te betoon aan die Een wat liefde is, is sielerus.

Maar wat van passie? Ja, passie moet daar wees.

Hoewel ons dikwels drif en romantiese hartstog bedoel wanneer ons na passie verwys, is daar ook 'n ander betekenis die laaste lyding van Jesus Christus aan die kruis.

Passie was hier, die pad van selfverloëning. Dit is vir ons moeilik om dié liefde wat Jesus openbaar het, na te doen. Dit verg pyn en opoffering wat dikwels met ondankbaarheid gepaardgaan.

Tog, is dit juis hierdie soort liefde wat God van ons vra.

In Johannes 15:12, gee Jesus vir ons dié opdrag, "Julle moet mekaar liefhê soos ek julle liefhet."

Daar was daardie dag geen onseker emosies aan die kruis nie. Net 'n beslistheid om aan die Vader gehoorsaam te wees. Om vasberade sy roeping, die saligheid van die mensdom, te voltooi.

"God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." (Johannes 3:16)

So ten spyte van die omstandighede waarin jy jouself hierdie Valentynsdag mag bevind – hetsy enkel, getroud, op die punt om te trou, 'n egskeiding wat jou in die gesig staar – wees verseker dat die God wat die heelal geskep het, 'n God van liefde is. En hy het jou lief.

Dit is voorwaar 'n ongelooflike seëning om 'n kind van die lewende God te wees. Mag jy vandag, en elke ander dag, sy liefde in 'n gebroke wêreld wees. Ten einde laaste is, "Al wat van belang is, geloof wat deur liefde tot dade oorgaan." (Galasiërs 5:6)

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou