• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Jou lewe of jou geld?

blog 10

Geld is belangrik. Dit maak mos alles reg wat krom is – of hoe?

Die Bybel waarsku ons teen 'n liefde vir geld en die slaggate op die pad wanneer ons materiële welvaart najaag. Tog verwag God dat ons verantwoordelik sal optree met die geld wat Hy aan ons toevertrou het.

Daar is vragte vol raad oor hoe om geld te maak, geld te spaar en geld te belê – alles sodat ons "finansiële vryheid" kan hê. Sommige Christene glo jy moet ryk wees voordat jy engins vrygewig met geld kan wees. Ander kan weer die Bybel bo-langs lees en die afleiding maak dat mens die Here net opreg kan dien as jy 'n lewe van armoede lei.

Dit blyk dat net die konsep van geld alleen (wat wou die invul van belastingvorms) baie verwarrend kan wees.

Maar soos die geval is met alles in die lewe gee die Bybel ook vir ons baie duidelik leiding oor hoe ons met ons finansies te werk moet gaan.

Die Bybel is baie duidelik dat geld nie alles is nie. Daardie plek is gereseveer vir God alleen, soos ons in Eksodus 20:3 sien. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

God weet dat enigiets wat ons té hoog ag, die mag het om ons harte te verower en ons in die versoeking kan bring om wêreldse dinge – soos geld – bo God te stel in 'n poging om ons probleme op te los. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. (Lukas 12:34)

Die Woord wys vir ons duidelik dat die gejaag na geld 'n eindelose en sinlose gebruik van ons tyd is. Oorvloedige rykdom beloof baie, maar is inderware 'n strik.

Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie. Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg; dit kry vlerke en vlieg die lug in soos 'n arend. (Spreuke 23:5)

God weet dat ons tyd en energie beperk is en daarom moet ons wys wees oor hoe en waaraan ons dit wy.

Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie. (Matteus 6:24)

Geld self is nie die probleem nie, dit is eenvoudig 'n ruilmiddel waarmee daar handel gedryf word. Dit is een van die vele hulpbronne – soos tyd, gesondheid en talent – waarmee God ons geseën het. Hulpbronne moet egter gebruik word om ander mee te seën en nie vir volgehoue selfverheerliking nie.

Jou ingesteldheid jeens en gebruik van hierdie hulpbronne word deur die ingesteldheid van jou hart bepaal.

Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. (1 Timoteus 6:10) As die liefde wat ons vir God moet betoon, verspil word op geld, sal ons verseker 'n behoeftige lewe lei, ongeag hoe welaf ons mag wees.

Die naarstigtelike gejaag na geld en wêreldse sukses maak ons blind vir die veelvuldige seëninge wat ons reeds het en ons verloor tevredenheid en dankbaarheid, twee kwaliteit wat God hoog aanslaan. Hou julle lewe vry van gelgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5)

Ons word ook in die Lukas 12:15 gewaarsku om nie ons vertroue in materiële besittings te plaas nie. Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.

Die Bybel sê ons moet ook waak teen spandabelerigheid, plesiersoekerigheid en dekandensie.

Wie plesier voorop stel, word arm; wie lief is vir wyn en lekker kos, word nie ryk nie. (Spreuke 21:17)

Wanneer geld reg aangewend word, moet dit gebruik om ander te help en om God te vereer. Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn. (Spreuke 3:9-10)

Wie 'n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is. (Spreuke 11:25)

Eerlikheid, integriteit en hardwerkendheid is waardes wat die Here vooropstel. Enige kortpaaie en "word-gou-ryk" planne is dus gewoonlik bestem om te misluk. Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk. (Spreuke 13:11)

Die Here vertel tot vir ons hoe ons belasting en die regering moet betaal. Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, askyns as dit askyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is. (Romeine 13:6-7)

So, hoe geldig is geld?

Ons kan niks maak of skep nie. Alles is 'n gawe van God. Hy was, is en sal altyd ons groot Voorsiener wees. As ons dus ons lewens daaraan wy om geld en soortgelyke "gawes" na te jaag, sal ons uitmis op 'n lewe van ware rykdom. 'n Ewige rykdom wat gewortel is 'n verhouding met God. “Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (Romeine 11:35-36)

Ja, meeste van ons wens gereeld, "As ek maar net 'n bietjie meer verdien, dan sal my lewe nie so stresvol wees nie. Dit is net rekening op rekening!"

Tog, is dit juis in hierdie stresvolle situasies waar God verlang dat ons na Hom toe sal draai vir hulp. En wanneer ons dit wel doen, is dit wanneer ons die werking van sy hand sien. Daardie klein wonderwerkies wat ons help om net weer te besef hoe wonderlik ons Hemelse Vader is, hoe lief Hy ons het en dat Hy net die beste vir ons wil hê.

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou