• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

Op reis met die Bybel

blog 11

Ons lewens is gejaagd. Baie van ons het al daarvan gedroom om op 'n verlate eiland gestrand te wees. Daar waar jy kan rustig wees, jou gedagtes kan laat gaan en kan stil word saam met God.

Die Bybelgenootskap het onlangs 'n groep jongmense ontmoet wat juis oppad was na so 'n ondervinding.

Op 6 April het die navorsingskip, die SA Agulhas II, vanuit die Kaapse Hawe vertrek oppad na Marion Eiland. Aanboord was 'n groep van 20 jongmense, hoofsaaklik nagraadse studente en tegnici, wat vir die volgende 13 maande navorsing op die eiland gaan doen.

Marion Eiland is 19km lank en 12 km wyd en beslaan, tesame met die naburige Prins Edward Eiland, 'n gekombineerde oppervlakte van 316 vierkante kilometer.

Dit is 'n afgeleë hoekie van die planeet dié.

Baie van die individue wat vir hierdie ekspedisie aantree, is dikwels onseker hoe hulle sal reageer as die afsondering hulle tref, ver weg van familie en vriende en afgesny van die wêreld daar buite.

Tog kan mens, ongeag die omstandighede, altyd troos vind in God se Woord. Dit is juis om hierdie rede dat die Bybelgenootskap sedert 2016 Bybels aan die individue skenk wat hierdie ekspedisies meemaak.

Ds Quintus Heine van die Bybelgenootskap se Wes-Kaap Streek het net voor die groep se vertrek die Bybels aan hulle oorhandig.

"My wens is dat die Here by julle sal wees. In die tye wanneer julle in die volgende 13 maande eensaam voel, sal die Bybel julle bewus maak van die Here se teenwoordigheid," het hy gesê.

Een van die jongmense wat verheug was om 'n Bybel te ontvang, was Terrence Shabangu, wat as dieselwerktuigkundige by die groep aangesluit het.

"Ek is baie bly ek kon hierdie Bybel ontvang want die Bybel beteken vir my baie. Sonder die Bybel is ek verlore," het Terrence gesê.

Chelsea Mekwa van Pretoria, was net so in haar noppies.

"Dit is 'n eer om hierdie soort hulp te ontvang. Die Bybel is vir my 'n manier om met God in verbinding te tree," het die meterologies tegnikus gesê.

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou