Die Evangelie bring lewe

blog 12

"Hoor die woord van die Here, droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” (Esegiël 37: 4b-6)

Toe Esegiël geneem is na die laagte vol bene was dit vir die profeet duidelik dat daar lanklaas enige lewe in hierdie dor bene was. Tog, toe die droë bene die woord van God hoor het hulle weereens lewend geword.

Dit is wat gebeur as ons die woord van God hoor, ons kry ons lewe terug, die krag van God en sy woord help ons om geestelik te ontwaak.

Die lewegewende krag van God se woord is duidelik te sien by 'n skool in 'n informele nedersetting aan die buitewyke van Port Elizabeth, in die Oos-Kaap.

Pastoor Mac Hayward van die plaaslike Westering Volle Evangeliese Kerk bied sedert 2014 die Gospel Project uitreikprogramme by die Elufefeni Primêre Skool, in Motherwell aan.

Toe pastoor Mac by die skool begin het, het die skool op die punt gestaan om sy deure te sluit. Maar die nuwe skoolhoof, Amanda Ntsumpa, was vasberade om die skool in 'n nuwe rigting te stuur en sy het die pastoor se hulp verwelkom.

"Hierdie project het baie vir ons skool beteken. Toe die projek begin het, het ons ses onderwysers en 174 leerders gehad. In 2015 het ons 15 onderswyers en 859 leerders gehad," het Amanda die skool se ongelooflik opgang in slegs een jaar beskryf.

Pastoor Mac het elke Dinsdag 'n sessie met 'n ander klas by die skool.

"Ons het met die graad 7-klas begin omdat ons wil hê hulle moet Jesus as hul Here leer ken voordat hulle graad 8 toe gaan. Ons het al die klasse tot en met graad 4 ingesluit," verduidelik Amanda.

Die geweldige ommekeer wat die projek teweeg gebring het, is ook in ander areas te sien.

"Ons het soveel kompetisies gewen wat ons kinders na mededinging op nasionale vlak geneem het. Die leerders self het ook hul gedrag verander, die manier hoe hulle dinge doen, en hoe hulle dink. Hulle houding het drasties verander," het Amanda beaam.

Die positiewe invloed van die projek strek ook verder as die skoolterrein.

Nagenoeg 500 Bybels, wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika geskenk word, is sedert 2014 onder die kinders by die skool versprei.

"Wat goed is, is dat hulle hierdie Bybels met hulle ouers deel. Wanneer ek 'n begrafnis in die gemeenskap bywoon, sien ek die Bybels wat die ouers in hulle hande het en ek herken dit as die Bybels wat by my skool uitgedeel is," vertel Amanda en voeg by dat die kinders ook dit wat hulle by pastoor Mac leer met hul familielede by huis deel.

Die plaaslike polisie wou ook weet wat by Elufefeni Primêr gebeur het. Voorheen het hulle gereeld die skool besoek om op die hoogte te bly van die jongste klagtes van vandalisme. Maar sedert die projek by die skool begin is, het die klagtes ook verdwyn.

Een persoon wat diep deur die projek en die Bybel geraak is, is Linomtha Thole, 'n graad 7-leerder by die skool.

"Dit het my lewe heeltemal verander. Ek het voorheen niks van die Bybel geweet nie maar vandat pastoor Mac hier aangekom het en ons van die Bybel geleer het, het ek Jesus in my lewe toegelaat. Iets waarvoor ek baie dankbaar is, is dat ek kon huistoe gaan en die Bybel met my ouers, my vriende en my familielede deel," verduidelik Linomtha.

Die Bybel het haar ook die geleentheid gegee om te vergewe. "Die kennis wat ek van die Bybel ontvang het, het my gewys dat daar geen rede is om kwaad te wees oor enigiets nie, en ek het uiteindelik die kans gekry om te vergewe. Ek het nou 'n normale lewe. Ek is soos enige ander kind, ek is op my eie manier spesiaal en uniek."