• Ons Missie

    Dit is die taak van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
  • 1

God se Woord vir die wêreld

blog 13

Dr Hrayr Jebejian, Uitvoerende Sekretaris van die Bybelgenootskap in die Golfstate het Suid-Afrika onlangs besoek. Ons het met hom gesels oor hulle werk in die Midde-Ooste.

Hrayr werk al vir die afgelope 37 jaar vir die Bybelgenootskap en die Bybel is sy passie.

"Benewens die feit dat dit 'n boek is wat my my Christenidentiteit gee, sien ek die Bybel as 'n boek vir die gemeenskap, 'n boek wat ons advies gee oor hoe om baie van ons daaglikse uitdagings te hanteer.

blog 13 2"Veral omdat ek in 'n nie-Christelike milieu werk, sê ek altyd, die Bybel is nie net 'n godsdiensboek vir die Christengemeenskap nie want dit het ook te make het met die alledaagse uitdagings van die lewe. Daarby help dit ook gemeenskappe om bymekaar te kom sodat ons mekaar beter kan verstaan. In dié lig gesien, is dit 'n vreeslike dinamiese boek wat die middelpunt van my lewe is," verduidelik Hrayr.

Om die Christendom en die Bybel in die Midde Ooste te verkondig, kan gevaarlik wees. "Tog", sê Hrayr, "geniet die Bybelgenootskap heelwat godsdiensvryheid in die Golfstate wat Jemen, Koeweit, Bahrein, Katar, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Oman insluit.

"Hulle is natuurlik almal nie-Christelike lande met Islam wat die amptelike godsdiens is en Arabies as die amptelike taal. Maar omdat hierdie lande baie ryk is aan natuurlike hulpbronne lok hulle baie buitelanders wat daar kom woon en werk. Volgens amptelike statistieke het die VAE meer as 125 verskillende nasionaliteite wat daar woon.

"So 'n hutspot van tale en kulture bied hulle die geleentheid om die Woord van God onder mense van regoor die wêreld te versprei," sê Hrayr.

Volgens Hrayr is die gemeenskap verdraagsaam teenoor Christene. Die regering gee die Christengemeenskap 'n stuk grond en die kerkleiers bou dan 'n kerk in die afgebakende gebied. Die kerke het die vryheid om hul aktiwiteite binne die gebied te hou.

"Ons moet natuurlik baie versigtig wees as ons iets in die publieke arena wil hou, dus word meeste van die Christelike funksie en aktiwiteite op die kerkgronde gehou," verduidelik Hrayr.

Hy voeg by dat die Bybelgenootskap sy werk binne hierdie kerkopset verrig.

"Omdat daar so baie verskillende nasionaliteite, taalgroepe en kerktradisies is moet ons baie interkerklik en ekumenies wees om sodoende met almal te kan werk."

Dit is om dié rede dat sy Bybelgenootskap tans die Bybel in minstens 70 verskillende tale in voorraad het. Danksy 'n goeie verhouding met die regerings het die Bybelgenootskap die nodig lisensies bekom om Bybels en ander Christelike literatuur wettig in te voer.

"Ek kan met reg sê dat die Bybelgenootskap die enigste Christelike uitgewery in die Golfstate is," vertel hy.

Die werk wat die Bybelgenootskap onder die groot getal trekarbeiders doen, het al menige maal vir Hrayr gewys op watter kragtige wyse die Bybel mense se lewens kan verander.

"Hulle kom meestal van Asië en die Afrika-subkontinent om in fabrieke, konstruksie en by vulstasies te werk, terwyl die vroue hoofsaaklik as skoonmakers werk."

Hrayr beklemtoon dat baie van die beraamde vyf miljoen trekarbeiders ongeletterd is en dat hulle voor baie uitdagings te staan kom, terwyl hulle probeer om 'n bestaan te voer.

Hierdie werkers verdien maar 'n skamele salaris (sowat $250 'n maand) en word dikwels nie betaal nie; hulle mis hul gesinne en is eensaam; hulle raak depressief; ontbreek mediese sorg; en veral die vroue word op verskillende maniere misbruik.

"Vir ons as 'n Bybelgenootskap skep dit 'n baie groot sendingveld waar ons die bybelse boodskap van hoop met hierdie trekarbeiders kan deel. Dit is voorwaar 'n seëning om te sien hoe die Woord van God hulle deur hulle moeilike omstandighede in die Golfstate help."

Daar is een spesifieke storie wat hom diep getref het.

"Hierdie Indiese vrou was van die dorp Haiderabad. Sy is op 'n jong ouderdom getroud. Sy het twee kinders, maar haar man het haar vir 'n ander vrou gelos. Sy het na Dubai getrek om genoeg te kan verdien om vir haar kinders te sorg.

"Sy het haar storie met my gedeel. Sy het lanklaas haar kinders gesien en haar omstandighede was moeilik. Sy werk as 'n skoonmaker en is ook mishandel.

"Sy het erg gehuil, maar toe opgehou. Sy het die trane afgevee, vir my gekyk en gesê, 'Ek is tevrede met dit wat die Here vir my gegee het'. Dit was vir my 'n baie emosionele oomblik. Ek het myself afgevra, met watter deel van haar lewe is sy tevrede. Die karige salaris? Om nie haar kinders te kan sien nie? Haar man wat weggeloop het? Die mishandeling?

"Sy voeg toe by, 'Ek bid ook dat Jesus my man se hart sal aanraak en dat hy sy lewe sal verander en na ons toe sal terugkom.'

"Dit is vir my 'n wonderlike storie. Dit was net weer eens 'n bewys hoe God se Woord mense se lewens kan verander.

"Die Woord gee hoop en inspirasie vir hierdie mense ondanks al hulle probleme en uitdagings. Daar is steeds iets waaraan hulle kan vasklou en wat hulle kan help om vorentoe te beweeg.

"God is werklik besig om onder hierdie mense te werk. Nie net word hulle lewens verander nie, maar wanneer hulle eers God se liefde en hoop ervaar het, wil hulle dit met alle mag met die ander arbeiders om hulle deel. Hulle wil dit nie net vir hulself hou nie, dit is so fassinerend. Dit is asof hulle 'n fontein ontdek het, asof hulle 'n skat gevind het," vertel Hrayr.

Kyk gerus hier na die volledige onderhoud.

'n Bybel vir
elkeen

Gee nou