PROJEKTE 2017

 

Ons vra want God luister

  

Project top sierra leone

 

En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.
1 Johannes 5:15

Dit is vroeg Maandagoggend, 14 Augustus 2017 en Alfred Johnny staan op die stoep van sy huis in Regent, 'n voorstad van Freetown, die hoofstad van Sierra Leone. Hy kyk uit oor die berg en die swaar reën van die afgelope paar dae. Ewe skielik hoor hy 'n harde geluid en sien hoe rotse, water en modder teen die berg afkom.

Die ondenkbare was besig om te gebeur. Die hele een kant van die berg, Sugar Loaf Mountain, was besig om te verskuif en het die gemeenskap van Regent verswelg. Strome water, modder en rotse het alles in die pad vernietig en huise in twee ander areas, Kamayama en Kaningo, is ook vernietig.

Meer as 3 000 mense het hulle huise weens hierdie ramp verloor en meer as 1 000 mense is dood in die modderstorting met honderde wat steeds vermis word.

Die Bybelgenootskap in Sierra Leone het dadelik ingespring en hande gevat met ander organisasies om na hierdie mense uit te reik. "Deur soos in die verhaal van die barmhartige Samaritaan uit te reik na ons landgenote wat diep getraumatiseerd is, dien ons ons Christelike missie," sê Christiana Jones, die Hoofsekretaris van die plaaslike Bybelgenootskap.

"Ons wil uitreik na alle slagoffers van die modderstorting en hulle gesinne met kos, water, matrasse, maar ook met die Bybel om te help met die geestelike versorging van ons mense," vertel sy verder. "Ons wil ook die noodlenigingswerkers en vrywilligers ondersteun. Ons het hier te make met 'n diep getraumatiseerde samelewing – ons is nog besig om te herstel van 'n jarelange burgeroorlog en die Ebola-epidemie en nou dit. Veral die arm mense in ons land kry bitter swaar," voeg sy by.

Die Bybelgenootskap in Sierra Leone benodig ongeveer R1,2 miljoen om kos, matrasse en beddegoed, water en Bybels te voorsien aan duisende mense wat alles verloor het. Die koste van die 3 000 Bybels wat hulle dringend benodig, beloop sowat R175 000.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en ander Bybelgenootskappe in die wêreld wil hande vat met ons kollegas in Sierra Leone. Jou bydrae kan ons daarmee help!

Elke R200 wat ons ontvang, sal help met iets te ete en 'n Bybel vir twee persone.

 

DIREKTE INBETALING
Bank: ABSA
Rekeningnommer: 260 208 950
Takkode: 632-005
 
* Gebruik asb verwysingsnommer: 1128

BETALING MET BANKKAART

  •   
  •   
Net 'n oomblik ...
Jy sal binnekort na PayU se webblad geneem word waar jy 'n veilige betaling kan maak.

SNAPSCAN